Liverpool knoop Rooi Duiwels se sterte

Deur Razeen Gutta

Rekords is gister verpletter en geskiedenisboeke herskryf toe Liverpool hulle aartsvyande, Manchester United, met 7-0 in die turf op Anfield ingespit het.

En die manier waarop hulle dit gedoen het, het mens se asem weggeslaan.

United, wat tot gister toe hoog gevlieg het, het die aarde met ’n hengse slag voor hulle teenstanders se tuisskare getref. Dié het keer op keer nóg ’n doel aangevra –  en gekry.

Jurgen Klopp se span het teruggebons ná ’n vernederende nederlaag teen Real Madrid op die einste veld.

Hulle het tot laat in die eerste helte gesukkel om David de Gea in die doelhok te beproef. Maar nadat hulle hulle teiken gevind het, het hulle die een kolskoot na die ander afgevuur.

Cody Gakpo het hulle vlak voor rustyd laat voorloop, maar enige uitslag was toe nog moontlik. Erik ten Hage se spanpraatjie het helaas op niks uitgeloop nie.

Darwin Nunez het die telling vroeg in die tweede helfte 2-0 in Liverpool se guns gemaak, en Gakpo het in die 50ste minuut nog een bygevoeg.

Mohamed Salah was die beste speler op die dag. Hy het die veld na willekeur met die bal deurkruis in een van sy topvertonings in ’n rooi hemp.

Die Egiptenaar het die vierde en sesde doele aangetekeken, en só die nommer een doelskieter in die klub se Premierliga-geskiedenis geword.

Die vyfde doel het aan Nunez behoort, en Roberto Firmino het, soos in ’n sprokiesverhaal, sy laaste wedstryd teen United met ’n doel afgesluit.

So skitterend soos Liverpool was, so treurig was United. Hulle beroemde agter-linie was ’n ramp.

Gary Neville het Bruno Fernandes se vertoning in sy opsomming as “skandalig” beskryf. United se kaptein het na ’n skrapse aanraking met ’n speler van Liverpool grond toe getuimel, en ná die wenspan se sesde doel aangedring dat hy vervang word.

Dit was Liverpool se grootste sege teen Manchester United, wat die ergste pak slae in hulle geskiedenis beleef het. Dit was die doodskoot vir hulle titelkanse.

In die foto hierbo: Liverpool 7, Manchester United 0

Fotobron: @1Mmnb