Help, daar’s ’n gekriewel in my kosblik

Deur Buziwe Nocuze

Boekwurms is ’n bate vir elke skool, maar wurms in ’n skoolmaaltyd is minder gewild.

Leerders by Phandulwazi Hoërskool in Onder-Crosroads was hulle eetlus kwyt nadat hulle laas Woensdag lewendige maaiers in hulle kospakkies aangetref het.

’n Sewentienjarige leerling het aan Scrolla.Africa gesê hulle was woedend en gewalg toe hulle ’n gekriewel in hulle stampmielies-en-boontjies opmerk. Dit was honderde slymerige maaiers!

“Ons is kwaad, want dit kon ons doodgemaak het. Dit wys jou hoe roekeloos hulle in daardie kombuis is.”

Volgens die leerders het sommige van hulle al begin eet toe hulle die skok-ontdekking gemaak het. Hulle het by die skoolhoof gaan kla, wat net so geskok was.

Zukiswa Mgidana, ’n besorgde ouer, wil hê die skool moet teen die kombuispersoneel optree. “Dis onaanvaarbaar. Dis duidelik dat hulle oneetbare kos aan ons kinders afsmeer. Dié keer was die leerders gelukkig genoeg om dit raak te sien.”

Millicent Merton, segspersoon vir die Weskaapse Departement van Onderwys, het bevestig dat die Nasionale Skoolvoeding-program die skool dadelik besoek het nadat die hoof die grillerige vonds aangemeld het.

Die beampte het self die kos in die stoorkamer ondersoek, en niks gekry wat verby die vervaldatum was nie. Hulle het toe aan die personeel verduidelik hoe om higiëne in die kombuis te handhaaf.

Mgidana glo die stoorplek is vuil, en dat die skool dit dringend moet skoonmaak. “Gelukkig het niemand siek geword nie. Volgende keer is dit dalk veel erger.”

Een van die leerders het gesê die insident het gemaak dat hulle glad nie meer die skool wil eet nie: “Ek sal veel eerder honger ly. Van daardie dag voel alles wat ek eet soos maaiers.”

In die foto hierbo: Phandulwazi Hoërskool-leerlinge in Onder-Crossroads, Kaapstad

Fotobron: Buziwe Nocuze