Storm saai verwoesting in Ooskaap

Deur Thabisa Ndzindzwa

Inwoners van die Ooskaap gaan steeds gebuk onder natuurrampe as gevolg van veranderinge in die weer.

Maandag is talle inwoners van Kwagogela eMaxesibeni dakloos gelaat deur ’n vernietigende haelstorm. Inwoners moes elders gaan skuil.

Nosiphelele Ngxabi het aan Scrolla.Africa gesê die storm het drie ure lank voortgewoed en ondenkbare skade aangerig.

“Ek het ses vertrekke en elkeen is vol gate geslaan. Water het deur die gate gestroom,” het sy gesê.

Ngxabi moes by haar bure gaan skuil.

“Ons moes mense vind wat minder skade as ons gehad het, sodat ons ’n dak oor ons koppe kon kry,” het Ngxabi gesê. “Dit was nie maklik nie, want ons is nege mense, maar hulle was baie hulpvaardig.”

Ngxabi het gesê sy en haar man beplan om vier of vyf bokke uit hulle kraal te verkoop om geld bymekaar te skraap om die huis reg te maak.

Hoewel haar man nog nie ’n gepaste koper kon vind nie, hou hulle aan kyk, aangesien hulle geen ander opsie het nie.

Nosibonelo Dungane, ’n ander inwoner, het gesê hulle kon die dak van een van die vier vertrekke in hulle huis lap, waar daar die minste skade was.

“Ons gesin van ses moes almal in daardie vertrek slaap. Die water gaan ons meubels laat vrot,” het sy gesê.

Lixolile Phethela, segspersoon vir die Alfred Nzo Distrik-munisipaliteit, het bevestig dat die storm 17 huise beskadig het. Hy het gesê die telling mag opskuif soos die munisipaliteit die skade ondersoek.

“Ons kon sponsmatrasse en komberse aan hulle voorsien, sodat hulle darem iets het wanneer hulle by bure oornag,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.

Phethela het gesê die munisipalitit beplan om die data wat hulle vergader aan die provinsiale departement van huisvesting voor te lê. Dié sou dan ’n ramptoestand kon uitroep en beskadigde huise herbou.

Hy is gefrustreerd omdat alles so stadig gebeur. “Mense moet jare wag vir dringende verligting,” het hy gesê.

In die foto hierbo: Oorblyfsels van ’n motor wat deur die onlangse storm in Kwagogela eMaxesibeni in die Ooskaap getref is

Fotobron: Verskaf