Rooi Duiwels lyk te warm vir Liverpool

Deur Dylan Bettencourt

SPOGSPORT: Rooiwarm Manchester United pak blosende Liverpool in die Premierliga se grootste stryd van die naweek.

Die Rooi Duiwels skop af as wenners van die Carabao-beker – en onoorwonne in hulle laaste 11 wedstryde.

Dit lyk asof bestuurder Erik ten Hag al die ratte glad laat loop by Old Trafford, met die span in die derde plek in die liga.

Terwyl Liverpool weer stadigaan op dreef kom, is hulle steeds in die sesde plek, met die moontlikheid dat hulle verder kan terugsak as hulle môre verloor.

Die klubs se tweestryd het ’n ryke geskiedenis, as die twee spanne wat die Liga die meeste kon wen.

Anders as in die vorige paar jaar is United oorweldigende gunstelinge om al drie punte op te raap.

Die wedstryd skop môre (Sondag) om 18:00 af, regstreeks op DStv kanaal 203. 

  • Aan die rugbyfront pak nog twee ou vyande mekaar: Die Stormers en die Sharks. Die wedstryd skop vanmiddag 14:30 in die Kaapstadstadion af.

Die Sharks is vol groot praatjies, maar dit sal ’n verrassing wees as hulle John Dobson se span op hulle tuisveld klop, met volgepakte pawiljoene.

Om 16:45 is dit die Lions teen die Bulls op Loftus. Die skaal swaai weer in die rigting van die tuisspan.

Die Lions het laasweek skitterend gespeel, maar om vir ’n Bul te brul, bly ’n waagstuk.

Volg dit regstreeks op DStv kanaal 201 en 211. 

  • In die Blitsbokke se kampie is die fokus op voorbereiding vir die Vancouver Sewes ná laasweek se vertoning in Los Angeles. 

Hulle kanse om binnekort ’n toernooi te wen, lyk by die dag skraler, en kwalifisering vir die Olimpiese Spele is nou hulle belangrikste teiken. Komaan, Blitsbokke! Daar is goud anderkant die reënboog.

Naguiltjies kan die wedstryde deur die nag volg. Die Blitsbokke se eerste wedstryd skop om 22:14 af, in ’n snikhete 7 grade Celsius. Dis regstreeks op kanaal  201 en 211. 

  • Formula 1 is dié naweek terug vir die 2023-seisoen met die Bahreinse Grand Prix.

Ná Max Verstappen se wenseisoen in 2022, wil hy ’n driekuns voltooi.

Die seisoen se eerste wedren is op DStv channel 215 te sien. 

In die foto hierbo: Manchester United pak Liverpool 

Fotobron: Manchester United