As jy en jou vriend voor ‘n beer te staan kom, is dit ongeskik om jou stadiger maat grond toe te stamp voor jy die hasepad kies.
Dit is een van die aanbevelings van die Nasionale Parkdiens in die VSA, ter voorbereiding om besoekers te verwelkom terwyl die bere uit hul winterslaaptydperk ontwaak.
Die agentskap het verskeie maniere voorgestel om ‘n beeraanval te oorleef, of te nie.
In ‘n twiet het die Nasionale Parkdiens mense aangesê om “nooit ‘n stadiger vriend om te stamp” om van ‘n beer te ontsnap nie, “selfs al voel jy die vriendskap het sy vervaldatum bereik”.
“Hoe gemaak as jy die stadiger vriend is?” het een persoon op Twitter gevra.
“Heroorweeg jou vriendskap voordat jy die wildernis betree,” was die agentskap se antwoord.
Die agentskap het mense gewaarsku oor die gevare van wilde diere, selfs binne ‘n park.
“Om ‘n beer in die natuur te sien is ‘n spesiale ervaring vir enige besoeker aan ‘n nasionale park. Alhoewel dit ‘n opwindende oomblik is, is dit belangrik om te onthou dat bere in nasionale parke wild is en gevaarlik kan wees,” het die Nasionale Parkdiens getwiet.
Dit het daartoe gelei dat verskeie Twitter-gebruikers baie belangrike vrae gevra het en kommentaar gelewer het oor ’n moontlike beeraanval by die park.
Een gebruiker het selfs gevra wat mens te doen staan as die beer “honger lyk?”
Die parke-agentskap het ‘n reeks wenke vrygestel oor hoe om te ontsnap in die geval van ‘n beeraanval.
“MOENIE hardloop nie, maar as die beer jou jaag, stop en staan jou man. Bere kan so vinnig soos ‘n resiesperd hardloop, opdraand en afdraand. Soos honde, sal hulle diere jaag wat op die vlug slaan,” skryf die agentskap in sy gids.
Dit vertel ook dat daar ongeveer 900,000 bere in die VSA is, waaronder 30,000 vry rondloop, buite die grense van nasionale parke.
So as jy jouself om enige rede in ‘n beer vasloop, in die VSA of elders, moenie jou vriend omstamp nie. Volgende keer mag jy die een wees wat agterraak.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: ‘n Beer is nie jou maat nie
Fotobron: Pexels