Ek’s armlastig – so wil jy miskien my suster koop?

Deur Everson Luhanga

‘n Malawiese man wou na bewering sy biologiese suster verkoop vir slegs 4.5 miljoen kwacha (R80,000).

Die polisie in Malawi se suidelike distrik Mangochi het die 25-jarige man gearresteer toe hulle lont geruik het oor sy bose plan.

Die man pleit armoede.

Amina Tepani Daudi, woordvoerder van die Mangochi-polisiestasie, het die voorval bevestig en die man geïdentifiseer as Mphatso Baison van die dorpie Chawanje, wat val onder die Ganya Tradisionele Owerheid in die Ntcheu-distrik.

Hoewel die transaksie nie suksesvol was nie, mag Baison uitsien na sewe jaar tronkstraf met harde arbeid as hy skuldig bevind word.

Daudi het gesê daar word beweer dat die verdagte op 1 Maart een van die gemeenskapspolisiëringslede in Mangochi genader het en ‘n besigheidsaanbod gemaak het. Die kommoditeit? Sy eie bloedsuster.

Die gemeenskapspolisiëringslid het die verdagte mislei, hom na die gebiedshoof toe geneem, en die polisie in kennis gestel.

Volgens Daudi het Baison beken dat hy sy suster wou verkoop en aan die polisie gesê dat hy deur armoede tot die daad gedwing is.

Na die papierwerk afgehandel is sal hy voor die hof verskyn op ‘n aanklag van die verwydering of aankoop van ‘n persoon as slaaf, wat strydig is met Artikel 267 van die Strafwet, met ‘n maksimum straf van sewe jaar agter tralies.

Op die foto hierbo: Mphatso Baison

Fotobron: Verskaf