Tennissterre sukkel met harige balle

’n Hele paar topspelers kla dat “wollerige” balle tennis vervelig maak en beserings veroorsaak.

Tydens die Australiese Ope, die eerste Grand Slam van die jaar, het sterre soos Rafael Nadal en Félix Auger-Aliassime gekla dat die balle onbruikbaar was.

Maar die toernooidirekteur, Craig Tiley, het gesê dis dieselfde tipe balle as dié wat in vorige jare gebruik is.

Soortgelyke balle is by die onlangse Katar-Ope gebruik. Daniil Medvedev het gesê hulle kon netsowel met appels gespeel het. Die probleem, het hy gesê, is dat die balle binne vyf of tien minute begin uitrafel.

Dit breek ’n bal se spoed en maak dit moeiliker om wenhoue te slaan. Potte hou langer aan, wat tot beserings kan lei.

Die Rus het gesê die balle verloor na so min as twee of drie potte spoed, maar kan die eerste keer eers na sewe potte vervang word, en daarna na nege potte.

Die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen het gesê hy het die reg om te kla, aangesien hy nietemin wen.

Die organiseerders van Grand Slam-toernooie het die reg om die balle te kies, en die spelers moet daarby aanpas.

Novak Djokovic, wenner van die Australiese Ope, het gesê daar is beslis ’n verskil, maar bygevoeg hy verkies die stadiger balle.

“Omdat die balle groter en stadiger word, is dit moeliker om ’n punt te wen. Mens moet harder werk en meer hardloop,” het die wêreld se topspeler in Katar aan die media gesê.

“Dit pla my nie. Ek hou van die balle, hier en in Australië. Daar is geen klagtes van my kant af nie.”

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

In die foto hierbo: Wollerige tennisballe

Fotobron: Pixabay