Rastas vlieg hoog op hof te trappies

Deur Tladi Moloi

’n Rasta-gemeenskap het dié week by die landdroshof in Phuthaditjhaba opgedaag, op die trappies gaan sit, en joints aangesteek.

Hulle kom van Thabana-tsoana in Qwaqwa, Vrystaat, en noem hulle plek “Jerusalem”. Hulle was, soort van, in die wolke terwyl hulle wag om ’n memorandum te oorhandig, uit protes teen beweerde optrede van die weermag en polisie, wat hulle “soos misdadigers behandel”.

Een van die betogers, Ntsebeng Kotelo, het gesê hulle het hulle vryheid kom opeis.

“Ons is nie vry nie, want die polisie en soldate jaag en arresteer ons broers. Ons voel soos indringers in ons eie land,” het sy gesê.

“Die polisie vang ons mans vir dagga en gooi hulle in die tronk, dan kry ons swaar om na ons kinders om te sien.”

Sy het gesê hulle behoort toegelaat te word om dagga te kweek soos ander mense groente en bome in hulle tuine plant.

“Die realiteit is dat ons nie sonder dagga kan oorleef nie. Die gebruik daarvan is vir ons ’n sakrament.”

Thapelo Mofokeng het gesê die opmars is gemotiveer deur die polisie wat gewelddadig teen een van hulle lede opgetree het.

“Die polisie hou nie by die wet wat sê almal het die reg op godsdiens, kultuur, gedagtes en bewussyn van hulle keuse nie.”

“Hulle storm ons huise sonder ’n hofbevel binne, en as hulle ’n sekere hoeveelheid dagga vind, sluit hulle ons toe.”

Lefa Sempe, Phuthaditjhaba se hofbestuurder, het die memorandum ontvang en beloof om dit aan die senior landdros te oorhandig. Hy het bygevoeg dat die hof binne sewe dae daarop sal reageer, soos vereis word.

In die foto hierbo: Rastas betoog dat die rook trek voor die hof

Fotobron: Verskaf