Deur Nkhensani Mthombeni
Laerskool Madjadji in die Limpopo platteland het die 2022/2023 Nasionale Skoolvoedingsprogram (NSVP) toekenning gewen vir die beste daaglikse maaltyd vir leerders.
As beloning het die Tiger Brand Foundation (TBF) ‘n moderne kombuis ter waarde van R800,000 aan die skool geskenk.
Die goeie nuus is aangemeld deur Regina Mhaule, adjunkminister van onderwys, by die departement van basiese onderwys se konferensiesentrum in Pretoria.
Die skool, geleë in die dorpie Selwane, het sy eie groentetuin en boorde – wat baie help om kos wat deur die regering geskenk word, aan te vul.
Deelnemende skole is beoordeel op grond van uitnemendheid, verbeeldingrykheid, en toewyding om die NSVP-program te laat werk.
Madjadji skoolhoof Mary Mokgalaka het gesê sy is verheug oor die oorwinning, en bly hul harde werk het vrugte afgewerp.
“Voedselhigiëne is ons hoofdoelwit. Wanneer ons die kinders se kos opdis, verseker ons dat dit in ‘n skoon omgewing gebeur. Tydsbestuur is van kardinale belang; ons maak seker dat leerders betyds gevoed word en dat niemand ‘n ete mis nie,” het sy gesê.
Alle produkte uit die tuin word met die gemeenskap gedeel en party items word vir kontant verkoop. Die geld word dan gebruik om ekstra kos te koop sodat gebalanseerde maaltye voorgesit kan word.
Die skool kyk ook uit vir minderbevoorregte gesinne en voorsien hulle van kospakkies wanneer daar ‘n oorskot is, om sodoende te verseker dat die kinders se magies ook na skool gevul word.
Die NSVP verskaf daagliks ‘n voedsame maaltyd aan skoolkinders regoor Suid-Afrika.
TBF direkteur Eugune Absolom het gesê dat nege miljoen leerders in 2019 afhanklik was van hul skoolmaaltye – vir sommige kinders, hul enigste ete van die dag.
Op die foto hierbo: Verteenwoordigers van Laerskool Madjadji ontvang hul prys
Fotobron: Limpopo Departement van Onderwys