Man se groot liefde toe net mummie-kompleks

’n Man van Peru is met ’n 600-jaar-oue mummie in sy koelboks betrap. Hy het beweer dis sy “spirituele meisie”.

Daar was helaas ’n kinkel in sy kabel. Die mummie was toe al die tyd ’n pappa.

“Dit is nie ’n Juanita nie, dis ’n Juan,” het ’n spesialis by Peru se departement van kultuur aan France 24 gesê.

Die polisie het onverwags op dié vonds afgekom toe hulle die 26-jarige Julio Cesar Bermejo deursoek het nadat hy en sy vriende dronk by ’n argeologiese soekwerf betrap is. 

Die mummie het in ’n enorme koelboks opgeduik, in ’n fetale posisie. Hy was 1.5m lank en is op 45 dood.

Bermejo het gesê sy pa het die mummie vir hom gegee, en was 30 jaar lank in die gesin se besit.

Hy het nie geweet waar die mummie oorspronklik vandaan kom nie, maar het gesê hy hou haar langs die TV in sy slaapkamer.

“Sy slaap by my. Ek sien om na haar,” het hy in ’n video gesê, volgens AFP.

Bermejo beweer hy het die mummie na die terrein geneem sodat hy daarmee by sy vriende kon spog, en ontken dat hy “haar” probeer verkoop het.

Hy en sy twee vriende word aangehou terwyl die polisie ’n moontlike skending van Peru se kulturele erfenis ondersoek.

Mummifikasie is gereeld in Peru toegepas voor Spanje die land gekoloniseer het. Mummies is in baie gevalle in ’n fetale posisie in grafte bo die grond geplaas.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

In die foto hierbo: Peruviaan se mummie-lief

Fotobron: Twitter