‘Duiwelse’ bye het Langa op hol

Deur Buziwe Nocuze

Getraumatiseerde inwoners van Langa township in Kaapstad leef in vrees nadat ’n swerm bye  in Livingstonestraat ingetrek het, waar hulle inwoners sonder rede aanval. Enigeen kan deurloop.

Nomaindiya Xothonga, ’n 70-jarige slagoffer, het haar skokervaring met Scrolla.Africa gedeel. Sy was Maandag op pad na haar suster se huis toe die bye haar oorval het. 

“’n Vrou met ’n baba het voor my gestap. Ek het gevra wat pla die baba, en voor sy kon antwoord, het ek gesien hoe drie bye die arme baba steek.”

Xothonga het omgedraai om te kyk waarvandaan die bye kom, en toe besef hulle pyl op haar af.

“Dit was te laat om weg te hardloop. Hulle het my begin steek. Ek het gegil, maar niemand het my gehoor nie – die bye het my oorweldig.”

Xothonga het gedink die bye gaan haar doodsteek, maar ’n lid van die gemeenskap het hulle met water verdryf.

“Ek is baie dankbaar. As dit nie vir haar was nie, kon ek dood gewees het,” het sy gesê.

Olwethu Ndumata, nog ’n slagoffer, wat aangeval is toe sy op pad was om haar kind by die kleuterskool te gaan haal, glo daar is ’n bose mag aan die werk in die gebied, en was ook verlig dat sy die dood vrygespring het. 

“Niemand het die bye gepla nie. Hulle het my uit die bloute aangeval. Ons almal weet bye is voorouers. As hulle ’n boodskap vir jou het, gaan hulle reguit na jou huis toe; hulle val jou nie in die straat aan nie.

“Hierdie is nie gewone bye nie. Daar is iets duiwels aan hulle.”

Inwoners wil hê die bye moet verwyder word voor hulle iemand doodsteek.

Raadslid Patricia van der Merwe, ’n verteenwoordiger van die Burgemeesters-komitee vir Gemeenskapsdiens en Gesondheid, het bevestig dat hulle ’n klagte ontvang het. Die saak word ondersoek.

“Ons wag vir terugvoer. As die bye op ’n privaateiendom is, moet die eienaar hulle laat verwyder,” het sy gesê.

In die foto hierbo: Livingstonestraat in Langa, Kaapstad, waar bye inwoners sonder rede aanval

Fotobron: Buziwe Nocuze