Deur Doreen Mokgolo
Gogo Tshinakaho Mananga leef uiteindelik haar droom uit om as akteur op die kleinskerm te verskyn.
Teen 96 is die pensioentrekker van Thenzhani-dorpie op die gewilde Tshivenda-sepie, Muvhango, te sien in die rol van “Vho-Nyadzanga” – ‘n voorsaat wat ‘n hooggeplaaste lid van die koninklike familie was.
Ons sien haar vir die eerste keer op die skerm wanneer sy op die koninklike stoel in die paleis opduik en haarself voorstel aan die karakter Lindelani, wat haarself amper doodskrik.
Sy word Lindelani se gids, en help haar om die nuwe Vho-Nyadzanga te word.
Lindelani en Vho-Nyadzanga se verhouding begin op die verkeerde voet en word deur vrees aangedryf. Maar soos die program vorder, aanvaar Lindelani haar roeping – tot groot verbasing van haar familie.
Mananga het aan Scrolla.Africa gesê sy lei ‘n doodgewone lewe saam met haar skoondogter en kleinkinders; toe word sy gekies as ekstra op Muvhango, en speel saam tydens ‘n verfilmingsessie in Venda.
“Ek het gebid dat Muvhango my sou terugbel met ‘n rol, want ek wou nog altyd ‘n akteur wees, maar het nie geweet wie om te nader om hierdie droom te bewaarheid nie.
“Ek was bly toe ek ingelig is dat ek alles kon bied wat die produksie benodig, en dat ek die perfekte kandidaat vir die rol is,” het sy gesê.
Die aktrise sê haar deurbraak dien as herinnering dat jy nooit te oud is om jou drome na te streef nie.
“Wanneer jy dit uiteindelik doen, gee dit jou heel beste en niks minder nie!”
Gogo Mananga bekoor almal met haar passie en dissipline, en sy blink uit in haar rol.
Alhoewel die pensioenaris nie kan lees of skryf nie, maak sy staat op rolverdelingsagent Nonkululeko Ndlovu en mede-akteurs om te help met die draaiboek.
Ndlovu het gesê gogo Mananga is “in haar element op stel”; sy verstaan vinnig haar reëls en neem aanwysings volgens haar rol.
Foto hierbo: Tshinakaho Mananga
Fotobron: Verskaf