Vroueleiers gekies om geweld stop te sit

Deur Celani Sikhakhane

In ’n stap wat teen tradisie indruis, het ’n tradisionele leier in KwaZulu-Natal besluit om hoofmanne met vroue te vervang om geweld in sy nedersetting hok te slaan.

Inkosi Nathi Maphumulo se kragdadige stap begin reeds welslae in die gemeenskap van Mbumbulu oplewer.

Soos die naam aandui, is die rol van die hoofman altyd deur mans vervul. Hulle is die skakel tussen die gemeenskap en die koning of koningin. En hulle neem besluite van persoonlike, kulturele en tradisionele aard, asook geskille tussen lede van die gemeenskap,

Die geskiedkundige besluit om mans in hierdie strategiese posisies met vroue te vervang, is dié week aangekondig tydens ’n oorhandiging van ’n kliniek en biblioteek in die plattelandse gebiede van Mdumezweni in Mbumbulu, suid van Durban.

Maphumulo het vir sy gemeenskapslede gesê die geweld waarby hoofmanne betrokke is, het tot sy besluit gelei.

“Ons het ’n probleem met hoofmanne wat vermoor word en ander wat by skermutselinge betrokke is. Ek het die hoofmanne wat omgekom het met vroue vervang.

“Die rede is dat vroue vredeliewend is. Dit is pynlik om te sien hoe hulle kinders en mans om die lewe gebring word. Mens hoor nie van vroue wat by geweld betrokke raak nie.”

Omtrent nege hoofmanne is sedert verlde jaar in gevegte, geskille en magstryde in KZN vermoor. Gemeenskappe het ook ander probleme wat met hoofmanne verband hou.

Party van hulle is daarvan beskuldig dat hulle gemeenskappe uit hulle grond bedrieg, en van dronkenskap wat verhinder dat hulle hulle werk doen.

As gevolg hiervan het tradisionele leiers die herlewing van King Bhekuzulu High School aangevra – ’n skool hoofsaaklik vir tradisionele leiers in Nongoma, Noord van KZN.

Die skool is gestig vir kinders uit koninklike gesinne, om toekomstige konings en koninginne te help om hulle vaardighede te slyp. Ná die eerste demokratiese verkiesings is dit aan alle kinders oopgestel.

Die leerplan is uitendelik aangepas om aan te sluit by basiese onderrig wat in alle skole geld. Maar die ontwikkeling van leierskap en etiese optrede bly die vernaamste doelwit.

Die meeste van die ou tradisionele leiers, wat die ontslape Koning Zwelithini kaBhekuzulu insluit, het die skool bygewoon.

In die foto hierbo: Inkosi Nathi Maphumulo, Nonhlanhla Jele van uMlalazi se Plaaslike Munisipaliteit, en die voormalige KZN Regterpresident Isaac Madondo

Fotobron: Verskaf