By Razeen Gutta
Besiktas-ondersteuners het tydens ‘n wedstryd hope speelgoed op die veld gegooi om te skenk aan kinders wat geraak is deur die onlangse aardbewings wat hul land geruk het.
Die gebaar het Sondag vir ‘n hartroerende skouspel gesorg toe toeskouers saam met slagoffers by die Vodafone-stadion in Istanboel geskaar het tydens ‘n wedstryd tussen Besiktas an Antalyaspor.
Die wedstryd is onderbreek teen die 4 minute en 17 sekondes merk; die presiese tyd wat die aardbewing Turkye op 6 Februarie getref het.
Tydens die onderbreking het ondersteuners die kans gekry om hul geskenke op die speelveld te strooi.
Reddingsbeamptes was byderhand terwyl die Besiktas-spelers opgewarm het in hemde met die name van stede wat die hardste getref is.
“Ons ondersteuners het ‘n betekenisvolle geleentheid genaamd ‘Dié speelding is my maat’ tydens die wedstryd gereël om gees te gee aan kinders wat deur die aardbewing geraak is,” het Besiktas in ‘n verklaring gesê.
“Die aanhangers het serpe, keppe en sagte speelgoed op die Vodafone Park-veld gegooi om kinders in die aardbewingstreek op te beur.”
Meer as 13 miljoen mense is deur die aardbewings geraak, met die dodetal in Turkye en Sirië wat reeds 50,000 oorskry het.
Video hierbo: Besiktas-aanhangers het tonne speelgoed op die veld gegooi om te skenk aan kinders wat geraak is deur die aardbewings.