Deur Doreen Mokgolo
Die legendariese Amerikaanse motown groep het gister geen lus vir tradisionele Afrika-kos tydens ’n skooltoer in Ekurhuleni gehad nie.
As deel van ’n toer deur Mzansi het die sangers van die klasieke liedjie “My Girl” Ekurhuleni School of the Arts en Rhoo Hlatshwayo Art Centre besoek, om te kyk wat jong kunstenaars in Daveyton-township doen.
Ná die skoolbesoek was die lede van die groep veronderstel om aan Afrika-kos te smul wat spesiaal vir hulle voorberei is by ’n plaaslike eetplek, Butcher 2.0.
Maar met hulle aankoms by die restaurant kon die legendariese sangers nie omgepraat word om ’n proetjie te vat – of selfs uit hulle toerbus te klim nie!
Hulle het gesê hulle is moeg en honger en wou by hulle hotel uitkom.
Benard Gibson, wat die langste geskiedenis saam met die groep het, was nie op die skooltoer nie.
Vroeër die dag, tydens hulle besoek die Ekurhuleni School of the Arts, het ’n nuwe lid van die groep wyse woorde met die leerders gedeel.
Lovel Jackson het aanbeveel dat hulle niemand vertrou nie en hulle kontrakte self lees en verstaan.
“Neem jou tyd voordat jy ’n kontrak teken; kry ’n tweede mening van ’n prokureur as jy moet. Nie almal dra jou belange op die hart nie. Sorg altyd dat jy nie jou regte wegteken in ’n kontrak wat jou loopbaan gaan verwoes nie,” het hy gesê.
Hy het die leerders vertel dat The Temptations op hoërskool gevorm is voordat hulle later ’n wêreldberoemde soul-groep geword het.
“Die opleiding wat jy vandag kry, sal ’n groot bydrae lewer tot jou toekoms as kunstenaar.”
Scrolla.Africa verstaan dat die besoek aan die twee kunsskole nie deel was van die toerkontrak vir hulle besoek aan Suid-Afrika nie, maar op die laaste oomblik bygevoeg is. Die toer het in Kaapstad afgeskop.
In die foto hierbo: The Temptations
Fotobron: Doreen Mokgolo