Laatvat met Lucky: In sommige kringe word hy Nigel “Rooikaart” Owens genoem. En om hom by die Springbokke te betrek, is ’n skuif wat hulle die Wêreldbeker kan laat wen, raai Lucky Maree.
Die voormalige Amerikaanse president Lyndon B Johnson het dié sêding amptelik kwytgeraak: “Dis beter as jou vyande in jou tent staan en buitentoe water afslaan, as van buite af binnetoe.”
Natuurlik kon Johnson, ’n uiters growwe kalant, dit anders gestel het, maar dis ’n groot waarheid waarmee niemand stry nie.
Nigel Owens spreek elke week op sy program Whistle Watch menings uit oor skeidsregtrs se beslissings, reg of verkeerd. Hy twyfel nooit aan sy oordeel nie. As jy sy program kyk, besef jy gou hy gebruik nooit die woorde “ek dink” of “miskien” of “waarskynlik” nie. Hy is Nigel Owens. Hy wéét.
Hy stuur ’n koue rilling langs mens se ruggraat af wanneer hy oor kaarte praat asof hulle so onbenullig is soos om te besluit of mens gaan tee drink of nie. Dit lyk asof hy nie omgee hoe dit ’n wedstryd raak nie – en hy sal sekerlik sê die ref moet die oortreding beoordeel, eerder as die gevolge.
Wel, miskien. Maar dis ’n debat vir ’n ander dag.
Rassie het Owens genooi om by die Springbokke se afrigtingspan aan te sluit, as amptelike raadgewer oor skeidsregters. Dit is duidelik dat dit beter is om Owens in jou tent as buite te hê.
Dis nie bekend of Owens die aanbod gaan aanvaar nie.
Kan dit gebeeur? Eerstens het hy verpligtinge om skeidsregters vir die Wêreldbeker op te lei, wat hom dalk sal verhinder om by die Bokke aan te sluit. Tweedens, is dit eties aanvaarbaar vir hom om in die Bokke te tent te staan en sy ding te doen? Sal dit hom nie van sy goddelike aura beroof nie?
Mens sou sekerlik kon aanvaar dat geld deel van die gesprek sal uitmaak.
Hoekom is Rassie se skuif so briljant en hoekom is sy tydsberekening so perfek?
Mens moet hier noem dat Rassie nie gewoonlik veilig speel waar dit by skeidsregters kom nie. Hy is immers die ou wat die video gemaak het wat Nic Berry na die internasionale rugbybase laat hol het, om oor die uitwerking op sy familie te tjank.
Aan die ander kant, verbeel jou ’n skeidsregter by die Wêreldbeker wat ’n moeilike beslissing moet maak, met die wete dat Owens in die Bokafrigter se kampie sit. Dit sal dapperheid kos om teen Owens se span te beslis.
Selfs as Owens (om welke rede ook al) nie die aanbod aanvaar nie, verbeel jou die welwillendheid wat Rassie klaar gekoop het!
Francois Pienaar, die 1995 Wêreldbeker se wenkaptein, wat gaaf was tot op die randjie van sieklike suikersoetheid, het hard daaraan gewerk om skeidsregters se guns te wen, met die hoop dat dit beslissing na sy kant toe swaai.
En Rassie het die ander afrigters met Owens voorgespring!
Toe City Press Owens om kommentaar genader het, het hy gesê: “Ek het niks gehoor nie, maar dit sal vir seker ’n eer wees.”
Nee, nee, Nigel. Ons, as die Suid-Afrikaanse publiek, is geëerd. Om die waarheid te sê, ons het vir jou ’n spesiale plekkie in die tent, hier neffens die tentflap.
Source: Planet Rugby