‘KSA moet nou vrouekrieket bevorder’ — Sune Luus

Deur Razeen Gutta

Sune Luus, kaptein van die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan, het ‘n beroep op Krieket Suid-Afrika (KSA) en die regering gedoen om landwyd in die vrouespel te belê.

Die Proteas het verlede week tot hul eerste IKR T20 Wêreldbeker-eindstryd ooit deurgedring, maar het Sondag in Kaapstad gestruikel oor die laaste hekkie teen ‘n sterk Australiese span.

In vergelyking met lande soos Australië, het Suid-Afrika nog ‘n lang pad om te loop ter verbetering van die vrouespel, met plaaslike ligas en provinsiale ondersteuning ‘n ooglopende volgende stap.

Luus het daarvan kennis geneem terwyl sy haar mening gelig het oor die pad vorentoe.

“Ons het alles uitgehaal om ons land se meisies die beste moontlike kans te gee. Natuurlik sou ons graag wou wen, maar ek dink nie ons kon op hierdie poging verbeter het nie,” het sy aan News24 gesê.

“Dit is nou tyd vir KSA, die Minister van Sport en wie ook al in beheer van krieket in hierdie land is, om aan deure te klop en dit oop te maak om vrouekrieket te bevorder sodat ons tred kan hou met Australië, Engeland en Indië.

“Die IPL [Indiese Premierliga] is volgende, en dit gaan ‘n yslike impak hê op vrouekrieket. Hopelik groei dit van daar af, en loop dit uit op ‘n vroue-SA20. Dit sal regtig Suid-Afrikaanse vrouekrieket help om die diepte te behaal wat ons bespreek het.”

“Al die topspanne het ook daardie ligas, wat ‘n groot aandeel het om hulle spel te verbeter.

“Dit is iets waarna ons regtig moet kyk. Ons vra al baie lank vir ‘n SA liga. Ek weet van begrotingsbeperkings, maar daar is altyd hulpbronne. Ons het ons beste gegee, en nou moet KSA en almal wat betrokke is die res laat gebeur.”

Op die foto hierbo: Sune Luus

Fotobron: @suneluus