GQEBERHA SE BLOEDIGE SONDAE

Deur Anita Dangazele

Township-inwoners van Gqeberha leef in vrees vir wat hulle as “Sondag moord-rituele” beskryf. Die mees onlangse slagoffers is Sondagaand in Zwide doodgeskiet.

Alles het op 29 Januarie begin met ’n skietery in Kwazakhele, waarin agt mense dood en drie gewond is. Sedertdien is nog 19 mense doodgeskiet.

Sondag se slagoffers is Mzamo Ngumbela en Khanya Mali, skynbaar terwyl hulle ’n vriend in

Zwide se Ngwekazistraat afgelaai het.

Volgens Kolonel Priscilla Naidu, Gqeberha se polisie-segspersoon, is Ngumbela met ’n

skoot in die kop aan die bestuurderskant van sy voertuig gevind. Drie passasiers

het op die vlug geslaan.

“‘n Beseerde vrou [Mali] is in ’n nabygeleë huis met skietwonde in haar nek gevind

en hospitaal toe geneem, waar sy vroegoggend dood is. Die polisie ondersoek

twee aanklagte van moord en twee van poging tot moord.”

Gqeberha se inwoners sê hulle is aan die genade van moordenaars oorgelaat, wat by mense se huise instorm en selfs helder oordag in die straat op mense lostrek.

’n Eenvoudige taak soos om ’n hoekwinkel te besoek, het gevaarlik geword. Inwoners weet nie of hulle lewend na hulle huise gaan terugkeer nie.

Party inwoners, wat naamloos wil bly, het gesê hulle wil nie by die polisie kla nie, uit vrees dat hulle geteiken sal word.

’n Vrou het gesê: “Nie ’n enkele Sondag gaan verby sonder ’n skietery iewers in die township nie. Ons is bang. Te bang om ons huise te verlaat.” Sy het gebewe van vrees.

Volgens ’n ander inwoner vrees hulle om openbare byeenkomste te reël, ingeval huurmoordenaars op gaste sal skiet.

Sommige mense meen die weermag moet ingeroep word, aangesien die polisie hulle nie meer kan beskerm nie.

Volgens die polisie in Gqeberha is die motief vir die moorde onbekend. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

In die foto hierbo: Mzamo Ngumbela se Ford Ranger in Ngwekazistraat, waar hy doodgeskiet is.

Fotobron: Verskaf