Deur Razeen Gutta
Die Proteas het gister op Nuweland met 19 lopies teen ’n briljante Australiese krieketspan in die T20 Wêreldbekereindstryd vasgeval – maar vrouesport in Suid-Afrika onomkeerbaar verander.
Hulle het niks verkeerd gedoen op die dag nie. Die magtige Aussies was net beter.
Die Kaapstadse skare was bankvas agter hulle span. Die atmosfeer was amper so goed soos die krieket – en dié was uitstekend.
Australië het die loot gewen en eerste gekolf, bestendig eerder as dominant, en puik boulwerk van die Proteas het hulle tot ’n heel haalbare 156/6 beperk. Beth Mooney se 74 van 53 balle het die beurt aanmekaargehou, en was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne.
As daar ’n meer elgante en aanskoulike kolwer as Suid-Afrika se Laura Wolvaardt by die toernooi was, het dié in die kleedkamer weggekruip. Wolvaardt het ’n skitterbeurt gespeel en haar sewende internasionale T20 vyftigtal aangeteken.
Die span se kanse het ’n dwarsklap gekry toe Megan Schutt haar in die 17de boulbeurt been voor paaltjie betrap het vir 61 van 48 balle.
Chloe Tryon se 25 was belowend, maar uiteindelik het die span se plofkrag ontbreek. Hulle kon net 137/6 haal.
“Dit was wonderlik om deel van so ’n toernooi te wees. Dis my tuisveld. Ek bly om die draai,” het Wolvaardt na die wedstryd gesê.
“Australië gaan altyd moeilik wees om in ’n eindstryd te klop. Ons het nie goed begin nie, en dit was moeilik om teen die einde in te haal.
“Mens kon elke toejuiging hoor. Ek het nooit tevore so ’n skare beleef nie. Ek sou hierdie elke dag kon doen. As ’n groep was dit fantasties.”
In die foto hierbo: Laura Wolvaardt
Fotobron: @proteaswomencsa