Die kragvoorsiener wat beswaarlik die ligte aan die brand kan hou, het aangekondig hy gaan deel wees van die ankermark vir elektriese voertuie.
Die Eskom-groep se uitvoerende hoof vir verspreiding, Monde Bala, het Saterdag gesê Eskom posisioneer homself om ‘n belangrike rol te speel om ontwikkeling van die elektriese mobiliteitsektor (eMobiliteit) in Suid-Afrika te ondersteun.
In ‘n mediaverklaring het Eskom gesê hy is nou deel van ‘n lys plaaslike borge vir ‘n eFees, met ‘n borgskap van R2.1 miljoen wat Eskom se mikronetwerk-tegnologie en mobiliteitsoplossing in die kollig sal plaas.
Eskom is besig om mikronetwerke te ontplooi om die groei van eMobiliteit in die land te ondersteun. Dit word ook bevorder as ‘n alternatiewe oplossing vir beurtkrag.
Vier Eskom persele word tans deur mikronetwerktegnologie aangedryf: Ficksburg in die Vrystaat, Lynedoch in die Wes-Kaap, Swartkop in die Noord-Kaap en Elandskop Bess in KwaZulu-Natal – en meer is in die pyplyn. Op sommige terreine sal fotovoltaïese sonkrag energie produseer wat in litiumioonbatterye gestoor sal word. Elders gaan sonkrag of mikro-windturbines gebruik word.
Intussen het City Power in Johannesburg sy werknemers en kontrakteurs tydelik van Westbury en Claremont onttrek weens kommer oor hul veiligheid.
Tegnici word aangeval wanneer hulle herstelwerk probeer doen, het City Power gesê, en word ook dikwels geteiken deur misdadigers.
City Power het die afgelope paar maande verskeie aanvalle op sy tegnici in die betrokke townships aangemeld.
Saamgestel deur Mashudu Mabila
Op die foto bo: Eskom-beurtkrag
Beeldbron: Twitter