VLOOIE BEHEER HIERDIE SIRKUS

Deur Zukile Majova, Politieke Redakteur

Suid-Afrika ervaar ‘n nuwe vlaag van vlooimarkery: piepklein partytjies met een of twee setels swaai die septer in multimiljard-rand munisipaliteitsrade.

Hierdie een-man-en-sy-brak bedrywighede regeer algehele gemeenskappe, met so min steun as 1% van die stemme.

In metro’s eis hulle senior poste soos speaker van die raad en selfs uitvoerende burgemeester.

Waar het dit alles so drasties skeefgeloop?

Die Northern Alliance, ‘n driesitplekparty in Nelson Mandelabaai, het die DA vandeesweek slapelose nagte gegee toe hy gedreig het om te onttrek uit die DA-geleide koalisie, wat die R37 miljard metro bestuur.

Die magsbalans in Gqeberha is nou so knap soos dêmmit: die DA bestuur die raad met 60 setels teenoor die ANC-koalisie se 59.

Hierdie selfde Nasionale Alliansie het verlede September uit ‘n koalisie met die ANC gestap en dus die mag in DA-hande geplaas. As hulle nou die rug op die DA draai, sal die ANC weer aan bewind wees.

Al hierdie heen-en-weerdery het katastrofiese gevolge vir bestuur, stabiliteit en dienslewering in Gqeberha.

Soos dinge nou staan, het die stad ‘n dringende oplossing nodig vir ‘n massiewe watertekort, wat kan dreig om bronne binne drie maande te laat opdroog.

Werkloosheid neem toe, infrastruktuur verkrummel en brutale misdadigers skiet helder oordag mense op straat – sonder gevolge, nogal.

Die plaaslike regeringsverkiesings van 2021 het 66 rade hangend gelaat, wat opperste mag aan die sogenaamde koningmakers verleen het.

In Gauteng het nog ‘n piepklein party, Al Jama-ah, die leisels van die R87 miljard Stad Johannesburg oorgeneem, met minder as 1% van die stemme.

Nuwe burgemeester Thapelo Amad het binne enkele ure nadat hy sy amp aangeneem het, planne aangekondig om R2 miljard te leen om die stad se beursie te laat bol.

In die eThekwini Metro het Philani Mavundla van die obskure Abantu Batho-kongres die ANC gehelp om die bewind te wen nadat geen enkele party ‘n volstrekte meerderheid in die munisipale verkiesing van 2021 behaal het nie.

Mavundla is beloon met die onderburgemeesterspos.

Dieselfde Mavundla het verlede maand ‘n vloermoer gegooi, wat gelei het tot ‘n reeks pogings om burgemeester Mxolisi Kaunda deur ‘n mosie van wantroue te verwyder.

Hierdie manewales het afgespeel terwyl eThekwini veronderstel is om dringend infrastruktuur te herbou wat vernietig is tydens verlede jaar se vloede, wat veroorsaak het dat Durban se strande hul Blouvlagstatus verloor het met rou riool wat die see in loop.

Die bloedstollendste deel hiervan is dat die gekheid van plaaslike regeringskoalisies herhaal mag word tydens die nasionale algemene verkiesing van 2024.

Dit is onwaarskynlik dat die ANC ‘n volstrekte meerderheid in Gauteng sal behaal, en ‘n herlewing van die IVP beteken dat KwaZulu-Natal nie meer ‘n vanselfsprekende opvangdam vir die ANC is nie.

Die party se Sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het Donderdag aangekondig dat die ANC vir voormalige Gautengse premier David Makhura aangestel het as hoof van ‘n span wat bestaande koalisies sal bestudeer. Hulle sal hom ook raadgee oor hoe sulke ooreenkomste in die toekoms benader moet word.

Hy moet dalk sy verslag vernoem na die bekende teks oor guerrilla-oorlogvoering, The War of the Fleas.

Op die foto hierbo: Thapelo Amad, burgemeester van Johannesburg. Ons  impliseer nie dat hy ‘n vlooi is nie, maar sy party, Al Jama-ah, is werklik bitter klein.

Fotobron: Twitter