Tazmin kolf en vang SA tot in Wêreldbekereindstryd

Deur Razeen Gutta

Suid-Afrika se vroue-krieketspan het iets reggekry wat die mans al 41 jaar lank sukkel om te doen: ’n pad oopgespeel tot in die eindstryd van ’n wêreldbekertoernooi, in dié geval T20. 

Hulle het Engeland gister op Nuweland verras, en speel môre op dieselfde veld in die eindstryd teen Australië. 

Dit was ’n groot sege in ’n wedstryd wat niemand gedink het hulle kon wen nie. Eers was die een span bo, dan die ander, en uiteindelik was dit Engeland wat voor die druk geswig en met ses lopies verloor het.

Die Proteas het die loot gewen en besluit om te kolf, en daar klits Brits en Laura Wolvaardt 96 om die eerste paaltjie, sonder ontsag vir Engeland se veelgeroemde boulaanval.

Wolvaardt het 53 van 44 geslaan, met ’n paar dekpunt-dryfhoue wat mens na Jacques Kallis laat terugverlang het, maar dit was Brits, die Speler van die Wedstryd, wat die Engelse moedeloos gekolf het. Haar 68 van 55 balle het twee sesse en ses viere ingesluit. (Sy sou later vier vangskote benut, waarvan een iets uit ’n ander wêreld was)

Nadat die aanvangskolwers uit is, het Marizanne Kapp 27 van 13 geslaan – ’n blitsaanslag wat drie viere in die laaste boulbeurt ingesluit het.

Engeland het op ’n galop weggespring met 53/0 in die eerste vyf boulbeurte. Dit het gelyk of hulle oor die Proteas gaan stoomroller.

Met vier beurte oor was dit nog steeds eensydig. Hulle moes net 33 lopies aanteken, met sewe paaltjies in die bank. Dis toe dat Nadine de Klerk, Shabnim Ismail en Ayabonga Khaka besluit genoeg is genoeg. 

De Klerk het Engeland se topkolwer, Nat Sciver-Brunt, in die 17de beurt laat terugstap vir 40, voordat Khaka in ’n droomboulbeurt drie penne vir drie lopies laat val het.

Ismail – wat vroeër die vinnigste opgetekende bal in die geskiedenis van vrouekrieket afgestuur het, ’n missiel van vlak by die 129kph – moes 13 in die laaste beurt verdedig. Haar senuwees het gehou, en met haar derde bal het sy Engeland se kaptein en laaste hoop se paaltjies omgeklits.

Kaptein Sune Luus het oorgeborrel. “Dis die beste boulaanval in die wêreld!”

Sy het vroeër haar topkolwers aangesê om dapper te wees en in hulleself te glo. “Hulle het ons trots gemaak en ’n platvorm vir Marizanne en die ander geskep.

“Dis ’n groot storie! Met elke wedstryd wat ons speel, maak ons geskiedenis en inspireer die nasie. Ek hoop dis ’n draaipunt, nie net vir vrouekrieket in Suid-Afrika nie, maar vir sport in die algemeen in Suid-Afrika.”

In die foto hierbo: Die wenspan 

Fotobron: @proteaswomencsa