Deur Dalphine Tagwireyi
Straatkinders in Harare maak geld soos bossies deur Brasiliaanse pruike van vroulike motoriste en voetgangers se koppe af te ruk.
Die kinders verruil die pruike vir geld by haarkappers, of ruil dit by dwelmsmouse vir metamfetamien (crystal meth), gom of hoesstroop.
Jacob Mavengere, 19, woon op straat en het aan Scrolla.Africa gesê hy is nou reeds ‘n jaar lank ‘n pruikplukker.
“Dit is die maklikste manier om geld te maak, want vroue is magteloos en baklei nooit terug nie. Ek wil nie my klante bekend maak nie, want hulle sal ophou om by my te koop,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat nagte die perfekte werksure voorsien, want hy kan blitsvinnig pruike afruk en dan in die donkerte verdwyn.
Die 21-jarige Mathias Dzapasi het gesê om pruike van motoriste en voetgangers af te ruk is ‘n winsgewende slenter, solank jy ‘n goeie atleet is. Geen ander vaardighede word vereis nie.
“Los jou duur pruik tuis as jy die middestad wil besoek, want sodra jy jou voet in ons buurt sit sal dit nie meer aan jou behoort nie.
“As jy bestuur, maak seker jou vensters is toe, want ons teiken gewoonlik verkeersknope en wanneer die verkeersligte rooi slaan, slaan ons toe. Dit gaan als oor goeie tydsberekening,” het hy gesê.
Slagoffer Eustania Nguruve van Harare, wat vroeg in Februarie haar pruik van R3,600 ($200) verloor het, sê die straatkinders het in booswigte verander.
“My Brasiliaanse pruik is gegryp toe ek drie weke gelede in die middestad ‘n straat oorgesteek het. Ek leef nou in vrees, want volgende keer roof hulle dalk my foon of handsak,” het sy gesê.
“Brasiliaanse pruike is duur en ek hoor dat hulle dit teen ‘n laer prys aan salonne verkoop. Ek dink diegene wat pruike by hulle koop, moet ook gearresteer word.”
Nog ‘n slagoffer, Eline Chipere, het gesê sy het haar pruik in Januarie verloor toe sy in Harare se middestad gery het.
“Hulle het met geweld een van my duurste pruike gedief.
“Dit laat my bloed kook as ek dink aan die afslag wat hul kopers kry.
“Hulle teiken gewoonlik duur produkte soos Brasiliaanse, Peruaanse, Mongoolse en Italiaanse pruike. Ons benodig die polisie se hulp maar hulle doen niks aan die saak nie,” het sy gesê.
Op die foto hierbo: ‘n Vrou wat ‘n Brasiliaanse pruik in Harare dra
Fotobron: Busisiwe Moyo