Vet kat sit Pole aan die spin

’n Vet kat genaamd Gacek het ’n, um, enorme toeristeaantreklikheid in Szczecin, Pole geword.

Die swaarwigtige kieterkat het wêreldwyd die verbeelding van toeriste en voornemende toeriste aangegryp, en ’n volmaakte vyfstergradering op Google Maps en meer as 1 000 resensies verwerf.

Die sewejarige Gacek het Szczecin se ander aanloklikhede uitestof, onder meer ’n hertogkasteel in Pommere wat uit 1346 dateer.

Volgens ’n plaaslike nuusnetwerk, wSzczecinie, gaan Gacek net waar hy wil en slaap al ’n hele klompie jare in ’n bedekte houtkas in Szczecin se Kaszubskastraat. Hy smul aan versnapperinge wat besoekers hom voer.

In 2020 het Gacek internasionale aandag getrek toe hy op YouTube in ’n dokumentêre video met die naam “Die Koning van Kaszubskastraat” verskyn het. Dit het meer as 4.5 miljoen kykers op Facebook en YouTube gelok.

Die rolletjies om sy midderif, en sy gewildheid, neem toe.

Gacek het glo meer as 2 600 resensies op Google Maps ontvang, maar ’n katterige persoon het dit verwyder. ’n Nuwe vermelding het binne 48 uur 500 resensies met gemiddeld vyf sterre gekry.

Een besoeker het gesê hulle het in Augustus 2021 van Oslo, Noorweë gevlieg om Gacek te sien.

Die gelukkige toeris het geskryf: “Natuurlik het hy hom nie aan my gesteur nie, wat die ervaring geheel en al eg maak.”

Maar nie almal was tevrede met die kat se gedrag nie. In ’n eenster-resensie kla ’n besoeker dat hy ’n worsie gegaps het.

’n Plaaslike diereskuiling het gevra dat besoekers ophou om hom te voer, aangesien dit sleg is vir sy gesondheid. Gacek is min gespin. Hy skat seker as hy iets sou oorkom, het hy agt lewens oor.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

In die foto hierbo: Gacek, die Koning van Kaszubskastraat

Fotobron: Twitter