Deur Dezzi Lennox
Indië se vroue-krieketspan het beter gekolf en beter geboul as Australië… maar daar laat val hulle die Wêreldbeker, of ten minste die kans om in Sondag se eindstryd te speel.
Twee verbroude vangkanse was gister die verskil tussen die twee spanne in ’n onvergeetlike halfeindstryd op Nuweland, wat Australië toe met ’n skamele vyf lopies gewen het.
Die koue statistiek: Australië stel ’n formidabele teiken van 173. Die hartseer waarheid: dit kon veel minder gewees het. Indië het twee maklike vangkanse, ’n stonkkans, en ’n uithardloopkans verbrou. Meg Lanning (49) is op 1 misgevang en Beth Mooney (54) op 32. Hulle het gesê, baie dankie… en koebaai.
Groot drama nog voor die eerste bal geboul is: Indië se kaptein en beste speler, Harmanpreet Kaur, staan uit ’n siekbed op om haar span te lei. Spoiler alert: dit het gelyk of sy die wedstryd gaan red, voordat ’n komiese glips haar letterlik laat struikel het.
Op pad terug vir ’n gewaagde tweede lopie haak haar stewel in die turf vas. Sy word uitgehardloop op 52 van 34 balle. Die wonderwerk was haar nie beskore nie.
Saam met Jamima Rodrigues (43) het sy haar span vroeër van ’n haglike 28/3 teen ’n wentempo aangehelp tot 97/4.
Nadat dié tweetal uit is, het Deepti Sharma en Shikha Pandey Indië amper-amper oor die wenstreep gehelp. Amper-amper tel helaas nie punte nie. Indië gaan huis toe.
In die foto hierbo: Harmanpreet Kaur
Fotobron: Twitter