Deur Zukile Majova
Andre de Ruyter, wat Suid-Afrika se elektriese stelsel vandeesweek van ineenstorting gered het, het sy bedanking bespoedig en ’n maand voor sy bestemde uittrede as Eskom se Uitvoerende Groephoof van die pos weggestap.
De Ruyter sou Eskom die einde van Maart verlaat het.
Maar ’n plofbare onlangse onderhoud op eNews Channel, waarin hy sinspeel dat die ANC en regeringsleiers Eskom as ’n vreet-trog sien, het sy tydjie by die kragvoorsiener kortgeknip.
De Ruyter het geïmpliseer dat korrupsie by Eskom endemies is, en dat “comrades” hulle sakke volprop.
Eskom het Woensdag in ’n verklaring gesê: “Na ’n spesiale raadvergadering op 22 Februarie 2023, het die raad en De Ruyter ’n gesamentlike ooreenkoms aangegaan, dat hy onmiddelik sy pos verlaat.”
Sedert sy aankoms het De Ruyter massiewe gevalle van sabotasie korrek uitgewys as die rede vir beurtkrag.
Hy het diefstal van steenkool en diesel, onreëlmatige verkryginge en skelm kontrakte uitgewys wat eenvoudig toegelaat word.
Steenkool van lae gehalte word aan Eskom gelewer, soms met klippe in wat generators beskadig, wat versiening vereis en die risiko van beurtkrag vergroot.
Gewetenlose besighede wat onderhoudskontrakte met Eskom het, slaan munt uit die ineenstortings by die kragleweraar, wat ’n waarde van R460 miljard het.
In die onderhoud wat klaarblyklik tot De Ruyter se vertrek gelei het, het hy gesê: “Ek het my kommer met ’n senior minister uitgespreek oor wat ek sien as verswakte toesig oor die $8.4 miljard wat, vernaamlik met Eskom se ingryping, by COP26 aan die land toegeken is.
“Die antwoord was, ‘Jy weet, jy moet pragmaties wees. Om iets in almal se belang te bereik, moet jy party mense toelaat om ’n bietjie te eet.’ So, ja, ek meen die korrupsie is verskans.”
Hy het gesê die regering stel nie daarin belang op Eskom op die lang duur reg te stel om die land se energiekrisis af te weer nie.
“Daar is baie min verduideliking vir die luidrugtige teenkanting teen die Regmatige Energie-Oorgang,” het hy gesê. Een moontlike verduideliking, meen hy, is dat dit nie ’n duidelik pad oopstel vir die “comrades” om te kan “eet” nie.
Dit wil lyk asof De Ruyter, wat tot groot mate beskou word as die enigste persoon wat bereid is om die waarheid oor die Eskom-krisis met die land te deel, dié keer te veel waarhede uitgespreek het.
Terwyl die ANC die publiek probeer wysmaak dat die beurtkragkrisis binne ses to 12 maande opgelos gaan word, gaan dit volgend De Ruyter ’n bitter moeilike winter wees.
In die foto hierbo: Andre de Ruyter
Fotobron: @mrlungisa