As mans hul hemde kan laat waai, waarom kan ék nie?’

Deur Khaya Ndaba

Ander DJ’s laat die bas losmaak. Joburg se kaalbolyf platejoggie, DJ “Buntu The Ghetto”, laat sak die brabande.

Die toplose Buntu sou die goedkeuring wegdra van disco-koningin Brenda Fassie, wat nooit bang was om te skok nie. Soos MaBrrr is die jong DJ daarop uit om die straight samelewing uit te daag en hul reëls te verbreek wanneer sy punte in die wind die plate begin spin.

Die 26-jarige “Buntu The Ghetto” (regte naam: Patricia Modiba) maak opslae op die ondergrondse musiektoneel as toplose DJ.

As ‘n produk van die #FeesMustFall-generasie, het Buntu se DJ-loopbaan in 2017 by Wits Universiteit begin, in ‘n groep genaamd die Black Womxn Caucus. Daar het hulle die benarde toestand van moord op Suid-Afrikaanse swart vroue bespreek. Tydens die groepsessies was hulle mal oor haar musiekkeuses.

“Toe die dames my aangepor het om ‘n DJ te word, het ek dit aanvanklik nie ernstig oorweeg nie, maar ek het wel uit my pad uit gegaan en die kuns begin leer,” het sy gesê.

Buntu het toe lesse by Kitchener’s Bar in Braamfontein geneem en met tyd al hoe beter begin speel.

Sy’s in Hillbrow gebore en getoë, en was dus nog altyd omring deur die diverse en multikulturele voorstad met sy hoë geboue en talle inwoners van regoor die Afrika-vasteland.

“Om daar groot te word, het my musieksmaak sterk beïnvloed omdat ek blootgestel was aan Afrika-musiek, musiek van Brenda Fassie en jazz,” het Buntu gesê.

Haar DJ-stelle is ‘n eklektiese mengsel van house, soul en jazz.

Maar wat haar regtig van enige DJ onderskei, is dat sy haar stelle uitvoer met kaal borste. Sy verduidelik dat dit ‘n persoonlike identiteit geword het, dié blootse borste tydens haar vertonings, omdat sy gemaklik is met haar liggaam.

Maar sy wil nie hê mense moet op die naaktheidsaspek van haar optredes konsentreer nie.

“Die bostuklose element van my persona kom van die #FeesMustFall-protes. Een warm dag het ek gesien hoe ‘n paar ouens hul hemde uittrek om die hitte af te weer. Ek het besluit om myne ook uit te trek.

“Die verdere voordeel is dat die polisie nie ‘n vrou sonder hemp tydens die betoging sou skiet nie.”

Baie mense was verward omdat hulle nie verwag het dat ‘n vrou bostukloos sou werk nie. Haar reaksie was: “As mans dit kan doen, hoekom kan ek nie?”

Die kaalbolyfstelling het ‘n kenmerk geword van haar lewendige optredes as “Buntu The Ghetto”.

Sy het reeds by gewilde aweregse klubs soos Mangrove en Kitcheners in die studentewoonbuurt Braamfontein opgetree. Opkomende optredes is bespreek by  FuckWhatYouHear by Native Rebels in Braamfontein en Phindamzala in Soweto, in Maart en April.

Op die foto hierbo: DJ “Buntu The Ghetto”

Fotobron: Verskaf