SA vroue swoep tot in semi’s

Deur Razeen Gutta

Suid-Afrika het Bangladesj gisteraand in Kaapstad met 10 paaltjies platgevee om deur te dring tot die halfeindronde van die T20 Wêreldbeker vir vroue, waarin hulle Engeland Vrydag pak.

Bangladesj het die loot gewen en gekies om eerste te kolf, maar kon net 113/6 in hulle 20 beurte opstapel. Marizanne Kapp en Ayabonga Khaka het elkeen twee paaltjies platgetrek. 

Kapp, een van die wêreld se beste alsydige spelers, het nie kolfkans gekry nie, aangesien Tazmin Brits en Laura Wolvaardt sonder veel drama die teiken op hulle eie verbygesteek het, met nog 13 balle oor.

Albei het 50-talle aangeteken, met Brits in die ankerrol en Wolvaardt wat die kolf, veral teen die einde, lustig swaai. Sy het net 56 balle nodig gehad vir haar onoorwonne 66.

“Ons was onder druk teen die halfpadmerk. Ons het geglo die lopies sal teen die einde kom. Dis ’n kop-ding,” het Wolvaardt gesê nadat sy as speler van die wedstryd aangewys is.

“Ons het dit vir onsself moeilik gemaak. Dit was ’n goeie kolfblad, maar ons het met ons tydsberekening gesukkel. So spesiaal om in die halfeind op Nuweland te speel.

“Hopelik gaan dit weer goed. Ek het ’n frustrerende toernooi gehad, maar dié voel baie lekker.”

In die foto hierbo: Op die wenpad!

Fotobron: @proteaswomencsa