Fopdos-rowers slaan twee maal toe

Deur Buziwe Nocuze

’n Inwoner van Onder-Crossroads het nog ’n slagoffer geword van ’n groepie gewapende rowers wat hulle as vroue vermom.

Die voorval het Sondagmiddag plaasgevind toe die 39-jarige man, wat sy naam weerhou, drie mense teëgekom het. 

Hy het gedink hulle was vroue wat te veel gedrink het en, besorg oor hulle veiligheid, het hy sy hulp aangebied. Maar dis sy eie veiligheid wat bedreig was.

“Ek was ontspanne. Ek het nie vir ’n oomblik gedink ek kan dalk beroof word nie,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.

Maar hy het gou besef hy is in die moeilikheid.

“Toe hulle nader kom, het ek gesien dis mans wat as vroue vermom was. Ek het geweet wat gaan kom,” het hy gesê.

Die drie verdagtes het messe uitgepluk en sy geld en selfoon gesteel. Die slagoffer het hulle gesmeek om sy lewe te spaar.

Ná die voorval het hulle weggedrentel.

Hy het gesê hy het nie die voorval by die polisie aangemeld nie, omdat hy nie gedink het hulle sou hom ernstig opneem nie, en dat hulle vir hom sou lag.

Hy is nie die enigste een wat met dié slenter geflous is nie. Nontsikelelo Malose, ’n 40-jaar-oue inwoner van die gebied, het gesê dieselfde ding het haar oorgekom.

Kolonel Mzwabantu Jada, stasiebevelvoerder in Philippi-Oos, het inwoners gevra om alle misdaad aan te meld.

“As slagoffers ontevrede is met die manier waarop polisielede hulle saak hanteer, is hulle welkom om my by die polisiestasie te kom sien.”

In die foto hierbo: ’n Man van Onder-Crossroads is deur fopdossers beroof

Fotobron: Buziwe Nocuze