Eskom nou Mantashe se baba, en syne alleen

Deur Zukile Majova

Terwyl Suid-Afrika Maandag deur Fase 6-beurtkrag geswoeg het, het die stryd om beheer van Eskom – die land se R460 miljard-kragvoorsiener – die hoofrol gespeel.

President Cyril Ramaphosa het tydens ‘n spesiale vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) by Luthuli Huis bevestig dat Eskom van die Departement van Openbare Ondernemings gaan skuif na die Departement van Minerale en Energie.

Dit is nog ‘n wenhou vir die ANC se energie rangeerder, Minister Gwede Mantashe.

Vir ‘n oomblik het dit gelyk of Mantashe nie sy kloue op Eskom sou kry nie, want Ramaphosa het gesê Pravin Gordhan, Minister van Openbare Ondernemings, sal aanbly as die aandeelhouers se verteenwoordiger.

Om Eskom na die Departement van Minerale en Energie te skuif was heeltemal teenstrydig met ‘n ANC-resolusie.

As die herverkose nasionale voorsitter van die regerende party is Mantashe die mees senior minister in die regering, en word alom beskou as ‘n “steenkoolfundamentalis” wat nie die land sal toelaat om werklik weg te beweeg van sy gewigtige afhanklikheid van steenkoolkragsentrales nie.

Terwyl daar van die Minister van Elektrisiteit, wat nog aangestel moet word, verwag sal word om ‘n uitkoms vir beurtkrag te vind, vertrou die ANC Mantashe om met langtermyn-energieoplossings vorendag te kom.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê Eskom gaan na Energie verskuif terwyl entiteite soos Transnet na die Vervoerdepartement sal skuif.

“Die NUK is in hierdie saak deur die president in vertroue geneem. Die werk van die minister van elektrisiteit sal hoofsaaklik wees om op beurtkrag te fokus,” het Mbalula gesê.

“Niks meer of minder nie. Dit is ‘n oorgangsmeganisme.”

Die ANC vertrou nie Ramaphosa en Gordhan se planne om Eskom te ontbondel of om die $8.5 miljard (R155 miljard) Just Transition van steenkool na hernubare energiebronne oor te dra nie.

Eskom staan ook op die punt om herkapitaliseer te word met Minister van Finansies, Enoch Godongwana, wat na verwagting sal aankondig dat die Nasionale Tesourie minstens twee derdes van Eskom se R400 miljard skuld sal oorneem.

Dit sal meer as R300 miljard se noodfinansiering vrystel vir die nutsmaatskappy om dringende aankope te doen om beurtkrag te beëindig.

Godongwana lewer Woensdag sy begrotingstoespraak in die parlement en hy sal na verwagting noodfondse aankondig om op die land se energiekrisis te reageer. Daar word ook verwag dat hy die nasionale ramptoestand wat deur die onlangse vloede in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap veroorsaak is, sal bespreek.

Op die foto hierbo: Minister Gwede Mantashe, “die ANC se energie rangeerder”

Fotobron: @GwedeMantashe1