Eens party pastoor op Beyoncé, maar nou’s ‘Queen B’ ‘n heks

‘n Pastoor in Amerika het sosiale media laat gons toe sy Beyoncé ‘n “heks” genoem en gesê het alle goeie Christene behoort haar af te sweer.

Maar dit blyk dat hierdie pastoor nie haar eie voorskrifte navolg nie, want dit het nou uitgekom dat sy eenkeer ‘n Queen B-konsert bygewoon en haar gate uit geniet het.

Die Amerikaanse pastoor Tiphani Montgimery se vurige preke het die virtuele wêreld laat knetter nadat sy Christene wat Beyoncé-aanhangers is, berispe het.

Montgomery, wat haarself ‘n profeet noem, het gepraat oor Beyoncé se komende konsert tydens ‘n onlangse byeenkoms by haar kerk, het Business Insider berig.

In ‘n preek wat die pastoor op YouTube en TikTok gedeel het, het sy gesê dat mense wat Beyoncé se konsert bywoon, in die naam van Jesus tereggewys sal word.

Die pastoor het Christene uitgeskel wat aanhangers is van Beyoncé, en gesê die sanger beoefen heksery.

In een van Montgomery se ou twiets van 2014 het die pastoor egter beken dat sy ‘n konsert met Jay-Z en Beyoncé bygewoon het. Volgens haar twiet was dit ‘n “wonderlike” ervaring.

Michelle Williams, Beyoncé se voormalige Destiny’s Child-medelid, het sosiale media gebruik om Montgomery ‘n bietjie van haar eie medisyne te gee.

“Ek weet dis nie my roeping om vermaaklikheidsterre hel toe te verdoem en te sê dat hulle sal dood neerslaan nie,” het sy gesê.

Met meer as 237 miljoen kyke op haar preekvideo, het Montgomery die kritiek op 13 Februarie in verskeie twiets aangespreek.

In haar verdediging teen haar kritici het sy gesê dat sy Beyoncé afgesweer het nadat sy in Augustus 2015 gered is.

Van enige twiets en inhoud wat voor daardie datum geplaas is, het sy gesê: “EK WAS SO BLIND SOOS WAT JY VANDAG IS!”

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: Beyoncé

Fotobron: Twitter