Atsu se oorskot terug op Ghanese turf

Christian Atsu se liggaam is terugbesorg in Ghana nadat hy gesterf het tydens die aardbewing wat beide Sirië en Turkye vroeër vandeesmaand geruk het.

Atsu is Saterdagoggend in Turkye dood verklaar nadat hy op 6 Februarie vermis geraak het – die dag toe die aardbewing van 7.8 op die Richterskaal verwoesting gesaai het.

Die vlug met die voormalige Chelsea-vleuel se lyk het laat Sondagaand in Accra geland.

Ghana se vise-president Mahamudu Bawumia het hulde gebring aan Atsu.

“Ons het teen alle verwagting bly hoop, en elke dag het ons gebid en nog meer gebid. Maar helaas, toe hy gevind is, was hy nie meer met ons nie,” het hy aan die media gesê.

“Dit is ‘n pynlike verlies. Baie pynlik.”

Bawumia het bygevoeg dat Atsu ‘n “gepaste” begrafnis sal ontvang.

Sy lyk is deur Ghana se gewapende magte weggemars.

Die 31-jarige het 65 keer vir Ghana verteenwoordig, insluitend tydens die eindstryd van die Afrikabeker-toernooi in 2015.

Atsu se vrou en drie kinders het Saterdag ‘n verskyning gemaak tydens ‘n minuut stilte voor die wedstryd tussen Newcastle United en Liverpool.

Atsu het van 2016 tot 2021 vir Newcastle gespeel.

Ghanese kaptein Mohammed Kudus het Sondag ‘n hemp met ‘RIP Atsu’ onthul nadat hy Sondag vir Ajax Amsterdam ‘n doel aangeteken het.

Atsu was die ambassadeur vir die liefdadigheidsorganisasie Arms Around The Child. Die organisasie het gesê die sokkerspeler was die hoofweldoener van ‘n skool in Ghana wat verlate kinders, weeskinders en chronies siek kinders ondersteun.

“Atsu was van armoedige afkoms in Ghana, maar het sy drome nagejaag en sy talent en posisie gebruik het om andere te help,” het die organisasie in ‘n verklaring gesê.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto hierbo: Christian Atsu se kis word deur gewapende magte gedra

Fotobron: Twitter