Deur Razeen Gutta
Die Suid-Afrikaanse operasanger Pretty Yende is persoonlik deur Koning Charles III genooi om in Mei vanjaar tydens sy kroningseremonie by Westminster Abbey op te tree.
Buckingham Paleis het bevestig dat Charles en Camilla op Saterdag 6 Mei gekroon sal word in ‘n seremonie wat talent van regoor die Verenigde Koninkryk en die Statebond ten toon gaan stel.
Pretty Yende, ‘n boorling van die klein dorpie Piet Retief in Mpumalanga, tel onder die kunstenaars wat opgeroep is om hul talente aan die aangeleentheid te verleen.
Die 37-jarige sal verkeer in die geselskap van legendes soos Andrew Lloyd Webber, Patrick Doyle en Iain Farrington, wat ook onder die koning se verkose sterre tel.
Yende het al in die wêreld se voorste teaters opgetree, en is onlangs met die Seremoniële Erekenteken bekroon vir haar bydrae tot kuns en letterkunde in Frankryk.
“Dit is moeilik om te verwoord hoe geëerd en geseënd ek voel na die uitnodiging om op Saterdag 6 Mei 2023 by die kroning van hul hooghede die koning en sy gade by Westminster Abdy op te tree,” het Yende op Twitter haar vreugde uitgespreek.
Op die foto hierbo: Pretty Yende
Fotobron: @prettyyende