G’n lig aan einde van treintonnel vir Oos-Kaapse pendelaars nie

Deur Anita Dangazele

Honderde werksgeleenthede is in die weegskaal in die Oos-Kaap, met treindienste tussen Gqeberha en Kariega steeds buite aksie.

Die Parlement se Portefeuljekomitee vir Vervoer het ‘n oorvloed van klagtes en voorstelle gekry tydens openbare vergaderings in Gqeberha verlede week.

Onder bespreking was die voorgestelde Wetsontwerp op Spoorwegveiligheid. Nelson Mandelabaai-inwoners het melding gemaak van die vandalisme van treinspore en spoorlyne. Ook op die agenda was die gebrek aan monitering, en versekering dat daar toesig langs spooroorgange en verkeersligte is waar nodig om voetgangers, diere en motoriste te beskerm.

Maar inwoners van die groter NMB-gebied wat die samesprekings by New Brighton se Nangoza Jebe-saal bygewoon het, het ook ander sake op die hart gehad.

Die Oos-Kaap sit sedert Augustus 2022 sonder treindienste. Die opskorting van hierdie -diens ruk NMB-inwoners se sakke.

Inwoners het ‘n beroep op die portefeuljekomitee gedoen om implementering van die Spoorwegveiligheidswetsontwerp te bespoedig, aangesien dit verligting sal bring van die stywe vervoerkostes wat die stad se armste pendelaars nou moet opdok.

Gogo Nowelile Bam, ‘n huishulp wat in Kariega woon en in Gqeberha werk, het aan die komitee gesê dat sy dit oorweeg het om haar werk te bedank omdat dit amper onbekostigbaar is om daar uit te kom.

“Ek het gedink die afgelope Desember gaan my laaste maand by my huidige werkgewers wees, want ek werk basies vir vervoergeld. Ek spandeer meeste van my geld daarop om by my werkplek en terug te kom, en het baie min geld oor om kos en ander goed te koop.

“Maar weens die stand van sake tuis kan ek nie ophou werk nie.”

Bam woon saam met haar ses kleinkinders; drie van die kinders behoort aan haar oorlede dogter en die ander drie is haar seun se kinders. Volgens die gogo het haar seun laas voor die Covid-19-pandemie gewerk, en nou drink hy homself simpel elke dag.

Om met die trein van Gqeberha na Kariega te reis kos R9, maar ‘n taxi kos R27. Sy het gesê omdat haar werkgewer haar vroeg laat loop, kan sy van die dorp af na haar huis in Kwalanga Township in Kariega stap.

Intussen sê Mama Nancy, wat vantevore eetgoed op die trein verkoop het, sy hoop die verbod op handelaars op die treine sal gelig word wanneer die parlement die stad besoek.

“Ek het voorheen skyfies, lekkers en sigarette op die trein verkoop op pad werk toe en terug, en dit het my gehelp om reiskoste te spaar. Ek wens hulle wil die besluit om handel op treine te verbied omkeer wanneer die gesprek hervat word.”

Ander kwessies deur inwoners aangespreek is die feit dat treine nie gestremdes akkommodeer nie. Hulle het verder versoek dat spoorlyne na ander dele van die stad, insluitend Coega en Kariega, uitgebrei word.

Die gebruik van onbenutte geboue wat aan Transnet behoort is ook bespreek; inwoners het gevoel dit moet in maatskaplike behuising omskep word.

Lisa Mangcu, voorsitter van die komitee, het die insette waardeer en het deelnemers verseker dat dit oorweeg sal word wanneer daar oor die wetsontwerp beraadslaag word.

“Hierdie proses bied ons die geleentheid om eerstehands te hoor hoe hierdie wette jou kan raak. Die bydraes wat hier in Gqeberha gemaak is, sal ons bemagtig om ingeligte besluite te neem en te verseker dat die wetsontwerp voldoen aan die publiek se eise,” het sy gesê.

Op die foto hierbo: De Mist Stasie in Kariega

Fotobron: Kefir Life (Facebook)