Eskom desperaat om fase 8 af te weer

Deur Zukile Majova

Die nare waarheid omtrent Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis is dié week onthul toe privaatverbruikers en besighede tussen agt en 12 ure se elektrisiteit per dag verloor het.

Fase 6 is gewoonlik die laagtepunt in Eskom se pogings om die land se verouderende stelsel te bestuur, maar gister het Eskom se base gesê hulle doen alles in hulle vermoë om fase 8 te vermy. Dit is ongehoord, maar die moontlikheid het altyd bestaan.

Eskom se uitvoerende hoof, Andre de Ruyter, het gesê fase 6 sal tot Woensdagaand voortduur. Indien alles volgens plan verloop, sal fase 4 Donderdagoggend inskop, en teen die naweek na fase 3 afgradeer.

Tydens ’n media-inligtingsessie het die uittredende hoof gesê ten minste agt voorsieningseenhede is buite werking, en swak steenkoolvoorsiening het kwaai druk op die stelsel geplaas.

“Ons kyk na Lethabo eenheid 4, 5 en 2, en ’n eenheid by Camden,” het hy gesê.

“Daarna hoop ons om vandag [gister] 3 000MW kapasiteit by te voeg, en 2 000MW elk vir Dinsdag, Woensdag en Donderdag.

“Dit sal die huidige druk op ons aansienlik verlig en die risiko verlaag.”

De Ruyter het gesê om fase 8 af te weer, loop hulle die oop gasturbines voluit om ’n tekort van 6 000MW in spitstye teen te werk. Gister was daar ’n verlies van 12 318MW, wat tot fase 6 gelei het.

“Dan is daar ook nog gedeeltelike verliese – ook baie hoog – van 5 993MW, en buitekapasiteitverliese van 2 100MW, wat verband hou met die steenkoolverskaffing aan Lethabo.”

Eenvoudig gestel, Eskom het 27 282MW vir spitstye nodig maar kan slegs 21 289MW voorsien. Elke tekort van 1 000MW is gelyk aan een beurtkragfase.

Dit hou nie daar op nie.

De Ruyter het gesê in die wintermaande sal ernstige strukturele probleme by Kusile en Koeberg beteken die land sal ’n tekort van 5 000MW ondervind.

“By Medupi eenheid 4 het ons ’n katastrofiese waterstofontploffing gehad, waarvan die skade eers teen September 2024 herstel sal word.”