Dodelike muskietspesie in Kenia bespeur

’n Gevaarlike muskietspesie, wat vordering in die stryd teen malaria ongedaan kan maak, is in Kenia gevind.

Dié muskiet, wat Anopheles stephensi heet, floreer in stedelike én landelike gebiede.

Navorsers van die Keniaanse Mediese Navorsingsinstituut het die ontdekking gemaak.

Generaal Sam Kariuki, die waarnemende direkteur van die instituut, het gesê hy vrees dat die aankoms van die miskiet ’n groot toename in die verspreiding van malaria dwarsoor Afrika tot gevolg gaan hê.

Anders as ander muskietspesies in Afrika, waarvan die oorlewing op die reënseisoen berus, versprei Anopheles stephensi malaria-parasiete dwarsdeur die jaar.

Kariuki het gesê hulle het bespeur dat die nuwe variant, wat anders is as ander malariaverspreiders, nie net indringend is nie, maar in verskillende omgewings floreer, onder meer mensgemaakte houers soos motorbande, oop watertenks, riole en besoedelde gebiede.

Die instituut is deurlopend in gesprek met ander dele van die vasteland om tred te hou met die verspreiding van die nuwe variant en die tempo waarteen besmetting plaasvind.

“Ons doen ’n beroep op die publiek om bestaande malaria-beheermiddels soos nette en afweersproei te gebruik,” het hy gesê. “Hulle moet ook langbroeke en langmouhemde dra om byte te voorkom.”

Dit was vroeër bekend dat Anopheles stephensi malaria in Suidoos-Asië, die Midde-Ooste en die Arabiese Skiereiland versprei.

Die spesie is die afgelope dekade of wat ook in Djiboeti (2012), Ethiopië en Soedan (2016), Somalië (2019), en Nigerië (2020) bespeur.

Kenia het groot vordering in die stryd teen malaria gemaak, maar die siekte plaas steeds druk op die land se gesondheidstelsel.

Artikel met vergunning van All Africa.

Saamgestel deur Mashudu Mabila