Deur Razeen Gutta
‘n Halfeindstrydplek is nog haalbaar, maar dis nie meer in die Proteas se hande nie. In plaas daarvan beteken hul nederlaag teen Australië dat Suid-Afrika nou op Nieu-Seeland staatmaak vir ‘n kans om te vorder.
Sune Luus se span het hul nederlaag teen Sri Lanka in Kaapstad gevolg met ‘n groot oorwinning oor die Kiwi’s in die Paarl, maar Saterdag se verloor was ‘n bitter pil om te sluk, aangesien die Aussies hulle tot net 124 beperk het in Gqeberha.
Die Proteas het in hul tweede beurt goed met die bal begin en drie paaltjies in die eerste sewe vir net 40 lopies geneem. Maar Tahlia McGrath het ‘n wedstrydwennende 57 van 33 balle gespeel terwyl Ashleigh Gardner haar man gestaan het vir 28 nie uit nie. Australië het sodoende boaan die groep geëndig.
Luus het gesê die probleem het in die eerste beurt gekom, toe Suid-Afrika gesukkel het om stewige vennootskappe te bou. Tazmin Brits het ‘n mooie 45 aangeteken, maar niemand anders het regtig hul voete gevind op pad na die eindtelling van 124/6 nie.
“Ek dink ons het net ‘n paar paaltjies, die een na die ander, verloor en dit het ons momentum gebreek. Ons kon nie regtig daarna aanpas en by daardie groot telling uitkom wat ons wou hê nie,” het Luus gesê.
Suid-Afrika pak Bangladesj Dinsdag in ‘n moet-wen-eindstryd in Kaapstad, maar dit sal als tevergeefs wees as Sri Lanka Sondagaand ‘n nederlaag teen Nieu-Seeland vermy.
Op die foto hierbo: Suid-Afrikaanse Vrouespan
Beeldbron: @proteaswomencsa