Deur Thathe Msimango
Die Twee Oseane-Marathon het vir die derde keer Goudstatus verwerf by die Internasonale Vereniging van Ultra-atlete (IVU), onder die vaandel van die Wêreldatletiek.
Die wedloop is ook in 2019 en 2020 bekroon, maar het nie in 2020 en 2021 plaasgevind nie, weens die Covid-19 pandemie.
Die rangorde is in 2008 ingestel om te verseker dat al die betrokke wedlope volgens ’n bepaalde standaard beoordeel word.
Wedlope waaraan daar Goudstatus toegeken is, word amptelik deur die IVU en Wêreldatletiek erken. Vanjaar se wedloop sal in die naweek van 15 en 16 April aangebied word.
Die Goudtatus is vir een kalenderjaar geldig, en kan elke jaar hertoegeken word. Hierdie brokkie goeie nuus is ’n ligpunt vir die wedloop, wat al 53 jaar lank bestaan. Ná Covid-19 moes hulle van vooraf bewys hulle is dié gradering waardig.
Nie minder nie as 16 000 hardlopers het laasjaar vir albei afstande – 56km en 21km – ingeskryf. Net die Soweto-Marathon was gewilder.
Skittertye in laasjaar se wedloop het tot die topgradering bygedra. In die wedloop vir vroue het Gerda Steyn ’n sensasionele tyd van 3 uur 29 min 24 sek daargestel en Frith van der Merwe se rekordtyd van 3:30:36 oortref. Dié rekord het 33 jaar lank gestaan.
Irvette van Zyl, wat tweede was in 3:30:31, het ook op Van der Merwe se rekord verbeter.
Die wedloop vir mans was ’n naelbyter. Edndale Belachew het met ’n sterk eindpoging oor die laaste kilometer ’n gaping van drie sekondes voor Nkosikhona Mahlakwana geskep. Sy wentyd was 3:09:05.
Met die Goud-gradering kan die nuwe borg, Totalsports, dit oorweeg om die prysgeld op te skuif en só meer internasionale mededingers te lok.
In die foto hierbo: Twee Oseane-Marathon
Fotobron: World’s Marathons