RAMAPHOSA AAN EFF: GENOEG KWAAIJONGSTREKE

Deur Zukile Majova, Politieke Redakteur

President Cyril Ramaphosa het ‘n lyn in die sand getrek vir die EFF: wil julle regeer of is julle daarop uit om anargie te saai?

In sy toespraak na twee dae van SONA-debat, het hy die EFF as “smouse van wanhoop” uitgekryt.

Die EFF-koukus was nie aanwesig in die Parlement om Ramaphosa se kommentaar aan te hoor nie – en die volk is dus gered van nog ‘n skandelike vertoning van anargie in die Nasionale Vergadering.

Maar hulle was betrokke by ontwrigtende aksies regoor die land.

Met meer as ‘n miljoen lede is die rooi barette, wat lidmaatskap aanbetref, die grootste party in Suid-Afrika.

En met 10,3% van die nasionale stemme wat 2,4 miljoen kiesers verteenwoordig, kan die ANC-splinterparty volgende jaar besluit wie kraai koning in die nasionale regering.

Ramaphosa het sy rede aan LP’s begin deur politieke partye te vra om saam te werk om oplossings vir die land se uitdagings te vind.

Maar, het hy gesê, sommige politieke partye speel nie saam nie.

“Liefs as om die stand van ons nasie met balans te beoordeel, wend sommige hulle tot oneerlike en selfdienende retoriek,” het hy gesê.

“Sommige kies om te verkleineer en te spot met wat oor die afgelope vyf jaar bereik is, te midde van uiters moeilike omstandighede, want dit dien nie hul politieke belange om erkenning te geen aan die ooglopende vordering nie.”

Hulle was miskien afwesig in die Parlement, maar die EFF was hierdie week landwyd in die nuus.

·     In Tshwane het streekvoorsitter Obakeng Ramabodu ‘n EFF-skare gelei wat die kantore van uittredende burgemeester Randall Williams bestorm het en lede van sy burgemeesterskomitee gedwing het om te vlug. Sekuriteits- en metropolisie is ontbied omdat komiteelede rondgestamp is.

·     In Ekurhuleni moes die howe ingryp om speaker Raymond Dhlamini terug in die saal te kry, nadat hy deur EFF-raadslede uit die raad gedwing is.

·     By die Universiteit van Kaapstad het die EFF Student Command (EFF SC) die universiteit gedwing om vandeesweek alle lesings op kampus te laat vaar. Hul rede vir die gekerm? Die feit dat die universiteit kontrakte aan hul eie werkers toegestaan het.

·     Op 20 Maart het Julius Malema belowe dat sy voetsoldate die land sal lamlê in wat as ‘n “nasionale stilstand” beskryf is.

“Die nasionale stilstand beteken dat daar geen skool, geen universiteit, fabrieke of besigheid op daardie dag sal wees nie.

“Alle munisipaliteite en alle groot stede sal gesluit word en niemand sal werk op daardie dag nie. Alle groot paaie sal versper word en alle toegangspoorte, insluitend paaie wat na grensposte lei, sal gesluit word.

“Geen sakebedrywighede sal op daardie dag gedoen word nie. Geen vragmotor of trein sal op die paaie en spoorweë toegelaat word nie, veral die vragmotors wat Suid-Afrika se minerale en steenkool oor Suid-Afrikaanse grense deur Richardsbaai vervoer.”

Malema ag homself as die bouer van ‘n polities militante mag van jong mense.

Maar sy planne om die land se reeds verswakte ekonomie verdere skade te berokken, sal nie Suid-Afrika se jeug help om die een ding te bekom wat hulle die meeste van alles benodig nie: werk.

Op die foto hierbo: Julius Malema, EFF-leier, bestorm die verhoog waar president Cyril Ramaphosa gewag het om sy SONA-toespraak te lewer.

Bron: @EFFSouthAfrica