Phakeng hel! UK vise-kanselier uit op haar alie?

Bly sy of waai sy, dis nou die vraag.

Volgens verslae in die media laas Vrydag het die Raad van die Universiteit van Kaapstad (UK) eenparig besluit om die omstrede vise-kanselier professor Mamokgethi Phakeng te skors.

Maar universiteitswoordvoerder Elijah Moholola het “onomwonde” bevestig dat sy steeds haar pos beklee.

Die Daily Maverick het berig dat daar besluit is om haar te skors na aanleiding van ‘n toenemende aantal klagtes teen haar. Sy het na bewering haar mag misbruik, en ‘n ondersoek na bestuur by die universiteit duur voort.

Die koerant het gesê die besluit is geneem ná konsultasie met die land se top arbeidsregkenners – wat bevestig het dat die universiteit ‘n prima facie saak van wangedrag teen Phakeng sou hê.

Onderhandelinge wat daarop gemik was om Phakeng toe te laat om met grasie uit te tree, in ruil vir ‘n vet uitbetaling, het glo misluk.

Phakeng se skorsing, indien dit wel die geval is, vind plaas ongeveer vyf maande nadat dinge lelik begin skeefloop het. Verlede September het die UK-senaat koppe gestamp tydens ‘n vergadering waar daar beweer is dat sy haar mag misbruik.

‘n Paar dae later het die Daily Maverick onthul dat die instelling deurspek is met ‘n kultuur van intimidasie en geheimhouding, wat vermoedelik deur Phakeng en Babalwa Ngonyama, voorsitter van die UK-raad, aangehits is. Die twee sit deesdae nie meer om dieselfde vuur nie.

Die verslag het beweer dat sleutelbelanghebbendes en senior administratiewe personeel uitgestoot is en gedwing was om nie-openbaarmakingsooreenkomste te onderteken, wat nie algemene praktyk by universiteite is nie.

Die UK se voormalige adjunk vise-kanselier, Lis Lange, was onder diegene wat glo deur Phakeng en Ngonyama verstoot is.

Openbare teenstand, gelei deur die UK se voormalige ombud, Zetu Makamandela-Mguqulwa, twee jaar tevore, gevolg deur die Senaatsvergadering en die onthulling deur Daily Maverick, het die universiteitsraad gedwing om die bewerings van wangedrag teen Phakeng te begin ondersoek.

Nege bykomende aantygings is teen haar gemaak, ondermeer kapsie teen haar optrede op sosiale media – soos byvoorbeel foto’s waarop sy ‘n vuurwapen rondswaai.

Saamgestel deur Anita Dangazele

Op die foto hierbo: Professor Mampho Phakeng met ‘n aanvalsgeweer

Fotobron: Professor Phakeng se Twitter-rekening