Kietiekat wil aan sy Sardientjie smul

Deur Dylan Bettencourt, Sport Redakteur

SPORTKEUR: As jy ’n United Rugby Championship-aanhanger is, beter jy jou inkopies Saterdagoggend doen – want dit is die enigste tyd dat daar nie URC-rugby op jou kassie gaan wees nie.

‘n Volkome fees van agt wedstryde vind tussen Vrydag en Saterdagaand plaas, met twee Suid-Afrikaanse veldslae op Saterdagmiddag.

Aangesien die Springbokke steeds in watte gehul is volgens die direkteur van rugby se voorskrifte, speel al vier plaaslike spanne hul B-manne.

Die Kietiekatte – ag, ek bedoel die Leeus – het vier van hul laaste vyf wedstryde verloor. Hulle sal waarskynlik met 30 punte in die hek duik, maar mag ook miskien net wen. Wat ookal met die Haaie gebeur, dit gaan nie goed wees nie.

Neil Powell was bekend – nee, bekroond – vir die manier waarop hy jong spelers na die hoogtes van Sewes kon verhef, maar niks hiervan is tans te sien in die huidige Sardiens –ag jammer, ek meen die Haaie – span nie.

Die Leeus speel Saterdagmiddag om 3nm gasheer vir die Haaie, regstreeks op DStv-kanale 201 en 211.

Kan die Bulle soos verlede jaar tot die URC-eindstryd deurdring? Kom ons kyk eers of hulle by die Stormers kan verbykom. Hulle het twee van hul laaste vyf wedstryde gewen, terwyl die Stormers drie uit vyf gewen het.

Fort Loftus is niks meer as ‘n lawwe cliché wanneer die pawiljoen amper leegstaan nie, en John Dobson blyk ‘n goeie afrigter te wees wanneer hy met jongelinge werk. Die Bulle mag moontlik met drie of vier punte wen, maar die Stormers behoort met sowat 20 punte te seëvier.

Die Bulle en Stormers se kragmeting sal om 5:05nm afskop, regstreeks op DStv-kanale 201 en 211.

Die Protea-vroue sal die veld betree vir hul derde T20 Wêreldbeker-wedstryd wat in die moederstad Kaapstad aangebied word.

Dit was tot dusver ‘n wipplankrit vir Suid-Afrika, wat hul openingswedstryd teen Sri Lanka verloor het voordat hulle Nieu-Seeland vroeër die week verslaan het.

Hulle staar egter nou hul moeilikste taak nog in die gesig, wanneer hulle teen gunstelinge Australië te staan kom op Saterdagaand.

Die Aussies het tot dusver al drie hul wedstryde gewen en sal probeer om dit vier uit vier te maak wanneer die aksie om 7nm by St George’s Oval begin.

Die kragmeting sal regstreeks op DStv-kanale 201 en 212 wees.

Op die foto hierbo: Die Stormers speel met die Blou Bulle

Fotobron: @THESTORMERS