Eie Korrespondent
Krieket Suid-Afrika, wat die afgelope tyd ’n klomp goed verkeerd gedoen het, het die regte man vir die regte pos gekies toe hulle Temba Bavuma as Toetskaptein aangewys het. Sy vuurdoop is die reeks van twee toetse teen die Wes-Indiese Eilande wat oor twee weke begin.
Hy het eweneens wyslik besluit om die kapteinskap van die Proteas se T20-span te laat vaar, na twee powere Wêreldbeker-toernooie, waarin Suid-Afrika nie die uitspeelrondes kon haal nie.
Hy is nie daarvoor aangelê nie. Hy het nie lopies in laasjaar se Wêreldbeker-toernooi gemaak nie, en Reeza Hendricks, wat skitterend op dreef was, uitgehou. Suid-Afrika is druipstert huis toe na ’n skandelike pak slae teen Nederland.
Toetskrieket en T20 is verskillende sportsoorte met dieselfde toerusting.
Die man wat hy vervang, Dean Elgar, is ’n rateltaaie vegter wat ’n span sonder kolfsterre – nie een met ’n gemiddelde van meer as 40 nie – tot ’n skoksege in ’n reeks teen Indië, die beste span in die wêreld, gelei het. Met hom aan die stuur het Suid-Afrika ook die Wes-Indiese Eilande en Bangladesj geklop.
Die glorie het vervaag in sy laaste twee reeks aan die spits, toe eers Engeland en toe Australië die Proteas lelik afgeransel het. Hy het swak besluite op die veld geneem, en sy bravade in TV-onderhoude is nie in seges omgesit nie.
In die 2022/23 reeks in Australië het die span moeg en verslae gelyk voordat die eerste bal geboul is.
Elgar het sover 13 Toetshonderdtalle opgestapel, en daar sal sekerlik nog heelwat meer wees, maar die kapteinskap het sy kolfwerk afgerem. Sy gemiddelde as kaptein is 26.8, teenoor 37.51 in sy oorhoofse loopbaan.
Bavuma, daarenteen, is nog op soek na sy tweede honderdtal. Dis ’n swaar las. Hy het die durf, die klas en die styl. Dis tyd om voet in die hoek te sit.
In die foto hierbo: Temba Bavuma, Suid-Afrika se nuwe toetskaptein
Fotobron: ICC-Cricket.com