Deur Zukile Majova
Moses Tembe, die Durbanse magnaat en pa van Anele Tembe, Kiernan AKA Forbes se oorlede verloofde, verwerp aantygings dat sy familie by ’n huurmoord op die rapper betrokke is.
“Ek is diep besorg oor die beskuldigings wat ek en my familie op verskeie sosiale media platforms moet verduur, dat ons betrokke is by die dood van Kiernan AKA Forbes,” het hy gister in ’n verklaring gesê.
Die veelbekroonde ster is op 10 Februarie buite die Wish Restaurant in Floridaweg in Durban se boomryke woonbuurt Morningside doodgeskiet.
Fans wat die vinger na die Tembe-family wys, suggereer dat hulle (die Tembe’s) glo AKA het ’n rol in Anele se dood gespeel.
Sy is in 2021 dood nadat sy van die tiende verdieping van ’n hotel in Kaapstad geval het.
Die oorsaak is as selfmoord aangegee.
Haar verhouding met AKA was by tye gewelddadig. Video’s van aspekte van dié geweld is in die sosiale media uitgelig.
Maar Anele se pa sê die familie rou oor AKA se dood.
“Ek stel dit onomwonde dat my familie die Forbes-familie se pyn deel, en dat ons nooit betrokke sou wees by ’n afskuwelike daad van hierdie aard nie.
“Nadat ons die ontydige dood van ons dogter moes verwerk, het hierdie sinnelose misdaad ons weer emosioneel verwond.”
Dis nie net die fans wat Anele se dood as ’n moontlike oorsaak van die moord op AKA beskou nie:
Scrolla.Africa het vroeër berig dat die polisie in KZN weer die omstandighede rondom haar dood bekyk.
Die polisiekommissaris van die provinsie, Luitenant-Generaal Nhlanhla Mkhwanazi, het gesê: “Ons is bewus van die insident in Kaapstad. Sedert AKA se dood ondersoek ons die oorledene se potensiële vyande.
“Die insident in Kaapstad kon beslis sommige mense ontstel het. Hulle kon hom die skuld gegee het vir haar dood.
“Dus bekyk ons weer daardie saak, en enige wrywing wat tussen hom en wie ook al bestaan het,” het hy gesê.
AKA se gedenkdiens word vanmiddag by die Sandtonse Konvensie-Sentrum gehou, en kan regstreekse op AKAWorldwide se YouTube-kanaal gevolg word.
In die foto hierbo: Moses Tembe
Fotobron: Twitter