Taxi-base ontwrig skoolvervoer om onderhandelinge af te dwing

Deur Buziwe Nocuze

Duisende skoolkinders is tuis gestrand omdat ’n taxivereniging, Codeta, paaie blokkeer en busse en privaatmotors dwing om om te draai.

Codeta is in ’n dispuut met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. Hulle dring daarop aan dat ’n tender om die kinders te vervoer aan hulle toegestaan word, eerder as aan ’n busdiens.

Die Wes-Kaapse lid van die uitvoerende komitee vir onderwys, David Maynier, het hom teen die blokkade uitgespreek. Hy sê die taxiverening wil die vervoerkontrak met mag bekom, en geld uit die departement wurg.

Codeta in Khayelitsha glo hulle is bevoeg om die diens te lewer, maar ouers is nie so seker nie. Hulle besorg oor hulle kinders se veiligheid.

Een van die ouers, Mandisa Ntikinca, het gesê: “Hulle is gierig. Hulle kan nie eers grootmense betroubaar vervoer nie, wat nog te sê kinders?”

Zikhona Mesi, ook ’n ouer, het haar frustrasie met die taxi-base uitgespreek. “Hulle moet hulle dinge met die departement uitsorteer en ons uitlos.”

Codeta se segspersoon, Andile Khanyi, beweer die departement het gesê hulle sou die vereniging se voorstel oorweeg en teen einde April 2022 na hulle terugkom, maar dit het nooit gebeur nie.

Van gister af is privaatmotors by die blokkades deurgelaat, maar nie busse nie.

Khanyi het gese die taxi’s sal die kinders wat sou busry gratis vervoer tot 23 Februarie om die departement ’n kans te gee  ’n oplossing vir die dispuut te vind.

In die foto hierbo: Ouers en bestuurders van skoolvervoerdienste het by Codeta se kantore in Khayelitsha, Kaapstad, gaan hoor hoekom hulle keer dat kinders skool toe gaan

Fotobron: Buziwe Nocuze