Russe se oemf hang halfstok ná Viagra-boikot

Die boikot teen Rusland het dié week na die slaapkamer uitgebrei toe Viatris, die vervaardiger van Viagra, aflewerings aan dié land gestaak het.

Die Kremlin het dit duidelik gestel dat hulle nie gaan slaplê nie, en aangedui dat Rusland hulle eie weergawe van die beroemde (of berugte) blou pilletjies kan vervaardig.

Viatris het Rusland al vroeg in 2022, ná Moskou se inval in die Oekraïne, in kennis gestel dat hulle uitvoere gaan staak, het die Washington Post berig.

Volgens die Kremlin het 36 plaaslike maatskappye die “tegnologiese vaardighede” om ’n  ereksiepil se vervaardig. Dit kom daarop neer dat die regering, wat opstande op straat onderdruk, dit tussen die lakens verwelkom.

Maar Sildenafil, die hoofbestanddeel van die wonderpille, word nie op die oomblik in Rusland gemaak nie.

Viatris het dwarsdeur die jaar geldelike verliese gely weens verskaffingsprobleme, maar kon bestaande klante uithelp.

Volgens ’n studie deur die Sentrum van die Ontwikkeling van Gevorderde Tegnologie, het Russe van Julie tot September 2022 2.7 miljoen meer pakkies as in die ooreenstemmende tyd in 2021 verkoop – ’n verhoging van 88%.

Hoewel farmaseutiese maatskappye nie regstreeks deur sanksies geraak is nie, het die oorlog voorrade laat kwyn en aflewerings geknou.

In Mei 2022 het die Oekraïne ’n wet gemaak wat die verkope en verspreiding van medisyne verbied het van maatskappye wat in Rusland handel dryf.

Saamgesel deur Mashudu Mabila

In die foto hierbo: ’n Viagra-pil

Fotobron: History