Dapper meisie uitoorlê ontvoerder – twee keer!

By Doreen Mokgolo

Veiligheidsveldtogte het ’n 11-jarige dogtertjie van Duduza, Ekurhuleni, twee keer gehelp om haar ontvoerder uit te oorlê en later te ontsnap.

Na bewering was die meisie laas Vrydag op pad huis toe van die skool af toe ’n swart BMW voor haar stilgehou het.

Die bestuurder, wie se gesig deur ’n balaklawa verberg was, het uitgespring, haar binnetoe gedwing en weggejaag.

Die slagoffer, wat anoniem bly om veiligheidsredes, het aan Scrolla.Africa gesê die bestuurder het kort daarna stilgehou. Toe sy skree, het hy haar met die dood gedreig. Hy het ’n lap in haar mond geprop en haar hande vasgebind.

Die meisie het gesê: “Terwyl hy buite op sy foon gepraat het, het ek ’n skêr uit my sak gehaal en die tou, wat nie te styf van was nie, geknip.

“Ek kon nie sy taal verstaan nie, maar ek kon sien hy is kwaad en gefrustreerd.”

Sy het die man se pistool op die grond sien lê, en dit by die venster uitgegooi tot in lang gras.

Toe hy na ’n lang ruk klaar was op die foon, het hy in die kar terugeklim en weggejaag.

“Ek kon sien hy is baie kwaad en hy het aanhoudend aan die stuurwiel gekap. Ek het by ’n stopstraat uitgespring en by ’n huis in die Masechaba seksie ingehardloop.”

Dinsdag het sy dieselfde kar en verdagte buite haar skool gesien, en die registrasienommer neergeskryf, soos haar ma haar aangesê het toe sy haar van die eerste insident vertel het.

Noluthando Mahlangu, segspersoon vir Duduza se polisie, het bevestig dat hulle ’n ontvoeringsaak ondersoek. Die verdagte is nog nie aangekeer nie.

“Na vermoede bestuur die verdagte ’n swart BMW met die registrasienommer ZY 77 ZW GP. Enigeen met inligting oor die saak moet dit asseblief aanmeld.”

In die foto hierbo: Die polisie in Ekurhuleni wil graag hulle boeie aan ’n vermeende ontvoerder slaan