Deur Doreen Mokgolo
Toe Johannah Lebaka haar mansvriend van meer as ’n jaar op Valentynsdag afgesê het, het hy besluit as hy haar nie kan kry nie, kan niemand anders ook nie.
Die 50-jarige man het wraak gesoek en gooi toe suur oor Johannah, 40, se gesig en lyf. Die suur word gebruik om put-toilette in Duduza, Ekurhuleni skoon te maak.
Die slagoffer het ’n bril opgehad wat haar oë beskerm het, maar die res van haar gesig het ernstige brandwonde opgedoen.
Ná die gruwel-aanval het die verdagte sy lewe probeer neem deur die res van die suur te drink.
Iemand wat op die voorval afgekom het, het hom probeer keer, en ’n desperate stryd om die bottel het ontstaan.
Die weldoener, Paul Makubetsi, het gese: “Ek moes vinnig optree maar ongelukkig het hy toe al van dit gedrink. Hy het ook daarvan op sy gesig gekry.”
Johannah en die aanvaller is na die plaaslike kliniek gehaas. Hulle is na Pholosong Hospitaal oorgeplaas, waar hulle steeds in ’n kritieke toestand is.
Makubetsi het gesê hy het suur op een van sy hande gekry, en het so erg gebrand dat dat hy besorg is oor die gebruik van daardie hand, omdat hy weet hoe gevaarlik die suur is.
Johannah se seun, Tshepang Lebaka, het aan Scrolla.Africa gesê sy ma het saam met sy jonger boetie uitgegaan om vetkoek by ’n snoepwinkel te koop, en kort daarna het hy haar om hulp hoor gil.
“Toe ek uitstap om te kyk wat gaan aan, het ek hulle gesien baklei. Ek kon dit nie verstaan nie, want hy is ’n vreedsame mens. Hy het haar van agter af aangeval.”
Sersant Nothando Mahlangu, segspersoon vir die polisie in Duduza, het bevestig dat hulle ’n aanklag van poging tot moord ondersoek.
“Die verdagte is in hegtenis geneem en is onder polisiebewaking. Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, sal hy in Nigel se landdroshof verskyn,” het sy gesê.
In die foto hierbo: Ooggetuie en weldoener Paul Makubetsi
Fotobron: Doreen Mokgolo