Spanjaarde rinkink op land se donker verlede

’n Span argeoloë in die Spaanse stad Utrera het onlangs op ’n sinagoge uit die veertiende eeu in die middel van ’n florerende nagklub afgekom.

Die sinagoge in die hart van die land was ’n invloedryke plek van aanbidding. Maar in die latere middeleeuse Spanje is Jode en Moslems uit die land verjaag tensy hulle die Christelike geloof aangeneem en hulle eie godsdienste versaak het.

Tydens dié donker en hatige tydvak het die Katolieke heersers, Ferdinand en Isabella, hulle Alhambra-Dekreet in Januarie 1492 in werking gestel en die Jode uit Spanje verban.

Dié dokument het Spaanse Jode vier maande gegee om te besluit of hulle hulle godsdiens laat vaar, of die land verlaat waar hulle families meer as 1 000 jaar gewoon het, volgens ’n onlangse  reeks wat deur Amerika se Public Broadcasting Service uitgesaai is.

Die Utrera-sinagoge is daarna in ’n kerkhospitaal omskep, waarna dit ’n skool was, voordat dit eeue later almal se gunsteling-nagklub geword het.

“Ons is oortuig daarvan dat ons op ’n middeleeuse sinagoge staan. Tot nou toe was daar net vier sulke geboue in die hele Spanje: Twee in Toledo, een in Segovia en een in Córdoba,” het Utrera se burgemeester,  José María Villalobos, gesê, volgens The Times.

“Hierdie is ’n uitsonderlike gebou wat deel is van Utrera, en deel van die gebied se inwoners se lewens vir die afgelope 700 jaar – en dit het tot in die 21ste eeu bly staan.”

Die span het hulle soektog begin nadat die priester en historikus Rodrigo Caro op leidrade afgekom het.

Die spanleier, Miguel Angel de Dios, sê hulle is nog in die vroeë stadium van hulle ondersoek.

“Die belangrikheid hiervan lê nie soseer in die grootte nie, maar in die feit dat ons op ’n hele sinagoge-kompleks afgekom het, wat die huis van die rabbi, aanbouings aan die tempel, ’n opleidingskool vir rabbi’s en ’n plek wat deur gelowiges bewoon is; ’n algemene praktyk,” het hy gesê.

De Dios het bygevoeg dat almal in die stad een of ander tyd hier rinking het.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

In die foto hierbo: Die antieke sinagoge wat in ’n nagklub gevind is

Fotobron: Twitter