Wat vir ‘n drol is dit?!

‘n Balletregisseur word daarvan beskuldig dat hy die gesig van ‘n dansresensent met hondepoef besmeer het na dié sy konsert gekritiseer het.

Marco Goecke is Maandag amptelik uit sy pos as balletdirekteur by Hanover Operahuis geskors, nadat hy kritikus Wiebke Huster se gesig met sy brak se ontlasting versier het. Die twee het laas Saterdagaand vir mekaar begin grom.

Volgens die Duitse koerant Frankfurter Allgemeine Zeitung het Goecke die resensent in die operahuis se voorportaal tromp-op geloop en gedreig om haar van die perseel te verban.

Goecke het beweer dat lede van die gehoor hul kaartjies gekanselleer het weens haar afbrekende resensie

Die onwelriekende aanval op die resensent word daaraan toegeskryf dat sy Hüster Goecke se nuwe aanbieding  ‘In die Nederlandse Berge’ as volg beskryf het: “Dit het my tot op die rand van waansin gedryf, maar ook amper laat sterf van verveling.”

Goecke het glo Saterdag al hoe kwater geraak, en uiteindelik ‘n papiersak gevul met diere-drolle uitgehaal en “die dansresensent daarmee deur die gesig geslaan”.

Goecke kon hom sonder inmenging spore maak deur die stampvol voorportaal.

Die polisie ondersoek die verregaande voorval “en strafregtelike klagte is onmiddellik aanhangig gemaak”.

‘n Woordvoerder van die operahuis het aan Duitse media bevestig dat die sak gevul was met honde-ontlasting.

Daar word beweer dat die direkteur ‘n troetelworshond genaamd Gustav besit, maar die brak is nog nie sover by die saak ingesleep nie…

Hanover Operahuis het Hüster – wat reeds vir ‘n kwarteeu as dansresensent werk – om verskoning gevra, en bygevoeg dat haar “persoonlike integriteit op ‘n onuitspreeklike wyse geskend is”.

Daar word gesê dat Goecke “yslike skade” berokken het aan die operahuis en sy balletprogram, en dat hy tot verdere kennisgewing van die terrein verban is.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: Marco Goecke onderrig ‘n balletklas

Fotobron: @StutggartBallet