Bedrieër ‘verdien’ R3.7m in KZN se premierskantoor

Deur Zukile Majova

Vir meer as tien jaar het ’n skelm sonder die nodige kwalifikasies in topposte in KwaZulu-Natal se regering gewerk sonder dat enigeen sy slenter agterkom.

Die premiers Zweli Mkhize, Senzo Mchunu, Willies Mchunu en Sihle Zikalala het nie besef hulle het ’n ongekwalifiseerde en onbevoegde bestuurder onder hulle kernpersoneel nie.

Tussen 2010 en 2019 was hy werksaam as projekbestuurder in die premierskantoor nadat hy vervalste kwalifikasies voorgelê het.

Die 40-jarige het glo uitgeblink in sy onderhoud en die pos gekry.

In 2019 het hy suksesvol aansoek gedoen vir die pos van onder-direkteur.

Terwyl hy daardie rol beklee het, het die Departement van Openbare Administrasie agterdogtig geraak omdat hy baie lank gevat het om oorspronklike dokumente van sy kwalifikasies, eerder as afskrifte, in te lewer.

Deur die jare het hy vals afskrifte van dokumente geskep en kommissarisse van ede omgekoop om die vervalsings te sertifiseer sonder die oorspronlikes.

Lede van die Valke in KZN het die man Maandag in hegtenis geneem nadat Openbare Administrasie hom by Pietermaritzburg se polisiestasie aangegee het.

Kaptein Simphiwe Mhlongo het gesê: “Daar is ontdek dat sy kwalifikasies vervals is, en dissiplinêre stappe is teen hom ingestel. Die Kantoor van die Premier is uit R3 720 422 beknoei en ’n bedrogsaak is by Pietermaritzburg se polisiestasie oopgemaak. Die dossier is aan die Valke oorhandig vir nadere ondersoek.”

Die vermeende skelm sal op16 Maart in die Pietermaritzburgse streekshof verskyn.

In April 2021 was meer as 35% van senior bestuurders in die regering nie gewalifiseer vir hulle poste nie.

Teen 31 January 2022 is die syfer met amper 10% na 25.9% afgebring. “Die kwalifikasies van 2 412 uit 9 309 senior bestuurders is nie bevestig nie,” het Thulas Nxesi, die Minister van Openbare Dienste en Administrasie in die Parlement gesê.

In die foto hierbo: Die Valke slaan toe 

Fotobron: Facebook SAPD